MIDDELBURG NUUS - “Hierdie jaar se interskou tussen jongooiklubs gaan meer suksesvol wees as laasjaar”, sê Diederik Vermeulen, koördineerder en reëlingskomitee.
Die dag word beplan om plaas te vind op Vrydag, 21 Julie, op Vermeulen se plaas Vrede in die Phillipstown-distrik.
Groot was die verbasing toe daar laasjaar meer as 400 boere, ramtelers, skoliere en besigheidsmense van omliggende dorpe en sover as Bloemfontein, op Vrede toegesak het.
Die skoudag word voorafgegaan met ‘n weidingsbestuurkursus deur Dr Lorraine van den Berg die Woensdag en ‘n beoordelaarskursus die Donderdag, wat deur Eddie Prinsloo van Merino SA aangebied sal word.
Gawie van Wyk, Noordkaap NWKV produksie adviseur gaan assisteer met die beoordelaarskursus en is hy ook die taak opgelê om as beoordelaar by die skou op te tree.
Addisioneel tot die interskou tussen deelnemende klubs Modern Merino, Phillipstown, Kraankuil. Britstown, Noupoort en Middelburg, leen die dag hom tot ‘n interessante inligtingsessie waar Annelize Crosby, parlementslid gaan gesels oor grondhervorming, Veeplaas se Albert Loubser gaan ‘n praatjie lewer oor tegnologie en Louis de Beer van Cape Wools gaan boere kom toespreek oor die onbekende onderwerp van wol op die JSE. Welbekende veearts Dr Frans Jooste gaan ‘n demonstrasie gee oor embrio spoeling en gaan bekende ramtelers hulle ramme uitstal terwyl Franna Benade, geliefde sanger en predikant die dames gaan toejuig met sy stem.
Noordkaap NWKV gebruik ook die geleentheid om hul streeksvergadering te inkorporeer met die dag se aktiwiteite.
Voorwaar ‘n geleentheid wat nie gemis moet word nie!
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'