Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - 'n Bielie van 'n stoetsram het vir groot opspraak gesorg toe dit vir R170 000 tydens Vrydag, 16 Augustus, se nasionale merino ramveiling op Graaff-Reinet verkoop is.
Kopers en verkopers het van sover as Lesotho gekom om te deel in die veiling.
Die BKB Merino Suid-Afrika se afslaer, Gert Jordaan van Cradock, het die geleentheid as van die beste in Suid-Afrika beskryf. Donderdagmiddag het hy die 67 ramme (wat tussen 81 kg en 170 kg weeg) gereed laat staan om opgeveil te word.
Elf telers het deelgeneem en gehoop vir die beste pryse. Dit was egter Jacques Pienaar van Mega Merino op Klipplaasfontein, Colesberg, se nege ramme van tussen 138 kg en 170 kg, wat kopers se aandag getrek het. Incredible (156 kg), Pienaar se ram wat die ongelooflike wenprys van R170 000 behaal het, is drie jaar oud.
Die ram het 'n gemaksone van 99 persent, wat beteken hy word in rustigheid gepamperlang. Een van Pienaar se ander stoetramme, Provider (138 kg), is vir R76 000 verkoop. Incredible se nuwe eienaar, Jaco Wessels van Paardekraal in Edenville, het gesê dit is die meeste wat hy nog vir 'n stoetram betaal het.
Pienaar, 'n SA-stoetramteler, het na die veiling aan die Advertiser gesê hy is volgende jaar terug met 'n nog beter ram.
Jacques Pienaar, die verkoper (links) en die koper Jaco Wessels (tweede van regs), met familiede en BKB-personeel by Incredible die ram.
Robert Rubidge van Wellwood in Graaff-Reinet se ses ramme het ook droompryse opgelewer. Rubidge se een 129 kg-ram het die tweede hoogste prys op die veiling behaal, toe die bod op R92 000 aan Wicus Cloete van Ermelo toegeslaan is.
Die gemiddelde aankoopprys van die 69 ramme beloop R28 000 per ram, met 'n totale inkomste van bykans R1,9 miljoen. Die drie toppryse is R170 000, R92 000 en R90 000.
Kyk 'n video hieronder:
Die Wellwood-stoetram wat die tweede hoogste prys (R92 000) behaal het. By die ram staan Gert Jordaan (afslaer), Bennie Steyn BKB), Wikus Cloete (koper), Richard en Robert Rubidge (verkopers). Voor sit Deon Simons (stoetmeester).
Foto's: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'