SUID-KAAP NUUS - Die Wes-Kaap departement van landbou bied op 21 Februarie 'n vleisbeesdag by die Outeniqua-navorsingsplaas buite George aan.
Manie Grobler, voorligtingspesialis by die department, sê: "Die doel van die dag is om die navorsing op die groei van beeste en die ekonomie van vleisbeesafronding op weiding aan die boere oor te dra."
Onderwerpe wat bespreek sal word sluit in:
- Vleisbeesproduksie van weidings na aanleiding van ondersoeke wat by boere gedoen is (Manie Grobler);
- Optimale verbetering van taaipol-weidings vir vleisbeeste (Janke van der Colf, direktoraat plantwetenskappe);
- Weidings met potensiaal vir vleisbees-produksie: belangrike eienskappe (Sigrun Ammann, direktoraat plantwetenskappe);
- 'n Winsgewende kruiskalf uitgroei- en afrondstelsel op weiding (Josef van Wyngaard, direktoraat dierewetenskappe);
- Rooiwater/galsiekte en lewerslak: Beheer en voorkoming (dr. Bennie Grobler, veeartsenydienste).
- Tydens 'n besoek aan verskeie navorsingsprojekte by die navorsingstasie sal gekyk word na:
- Kruisteel: Vaarrasse (Ben Booysen);
- Droëland weiding (Janke van der Colf en Sigrun Ammann);
- Vleisproduksie vanaf weiding (prof. Robin Meeske, Josef van Wyngaard en Bertus Myburg);
- Toekomstige vleisbees koei-kalf navorsing (prof. Robin Meeske).
As 'n bydrae tot ontwikkeling sal die Tuli-telersvereniging op dié dag amptelik 'n Tulibul en vroulike teeldiere as 'n kuddebouprojek aan die Olympia Vaardigheidskool in George oorhandig.
Deelnemers is welkom om insetverskaffers se uitstallings na afloop van die program te besoek.
Registrasie begin om 08:30 en die program skop om 09:00 af. Die dag word om 14:00 afgesluit met gratis middagete.
Kontak Manie Grobler by 079 699 1159 of manieg@elsenburg.com vir meer inligting.
ARTIKEL & PHOTO: TISHA STEYN
'Ons bring jou die Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'