GRAAFF-REINET NEWS — Die 2018 Nasionale Merinoveiling het verlede Vrydag, 17 Augustus by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet plaasgevind.
Die 71 ramme wat te koop aangebied is, het die buitengewone hoë gemiddelde prys van R30 099 behaal.
Andrew Jordaan en seuns van die Montevideo Merinostoet, Cradock, het die hoogste prys ram vir R210 000 aan Pieter van Zyl en Philip Botha van Britstown verkoop.
Dieselfde kopers het R130 000 betaal vir nog 'n ram van die Jordaans. Montevideo Merino's het 'n uitstaande prestasie behaal deur 'n gemiddelde prys van R110 000 vir hul ses ramme op die veiling te handhaaf.
Wildewater Merino's van Michael Hayward, Noupoort, het die tweede hoogste prys van R113 000 behaal vir 'n ram wat verkoop is aan Wikus Cloete en Jannie Jacobs van Ermelo.
Hierdie stoet se gemiddelde prys behaal vir sewe ramme wat verkoop is, is R27 000.
Trumps Merino's van Andries en Jan Pienaar (Hanover), se hoogste prys ram is vir R110 000 verkoop aan die Scheepers-broers van Fouriesburg. Hul tweede hoogste prys ram was R82 000, en die gemiddelde prys behaal vir Trumps se sewe ramme op die veiling is R43 143.
Ander hoogste pryse behaal: Grootaar Merino's van Stephanus van der Heever (Richmond) - R84 000, Diepfontein Merino's van Dan en JP van der Heever (De Aar) – R46 000; Wellwood Merino's van Robert Rubidge (Graaff-Reinet) - R44 000 en Kinko Merino's van die Van As broers (Swellendam) -R42 000.
BKB afslaer Gert Jordaan (met die verkoper se seun voor hom) verskyn hier saam met Andrew Zeiss Jordaan, Andrew Jordaan jr (verkoper), Pieter van Zyl (koper), Giepie Calldo (RFID), Andrew Jordaan (verkoper), Hendriëtte Stafford (Ramsem) en twee ramme wat onderskeidelik R210 000 en R130 000 op die 2018 Nasionale Merino Ramveiling behaal het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'