SUID-KAAP NUUS - Die Agri Herold Landbouvereniging doen 'n beroep op sakelui van dorpe in die Suid-Kaap en Klein-Karoo om boere, wat weens die voortslepende droogte in nood verkeer, finansieel te ondersteun.
"Ons versoek sakeondernemings in George, Mosselbaai en Oudtshoorn om boere in die bedieningsarea van Agri Herold Landbouvereniging te help om die verskriklike droogte te oorleef," sê Weeber Truter, Angoraboer in die omgewing, wat pas saam met die bestuur van die vereniging die Help Herold Boere In Nood-projek van stapel gestuur het.
Ten einde sakeondernemings in die dorpe 'n geleentheid te gee om na landbou uit te reik, word 'n dinee op 27 Julie by Oppie Plaas-venue in Waboomskraal aangebied en sakeondernemings word genooi om van die 25 tafels vir 10 persone elk teen R10 000 te koop.
Hoofsprekers by die dinee is Omri van Zyl, uitvoerende bestuurder van Agri SA, en Ollie le Roux, oud-Springbok-rugbyspeler wat naby Bloemfontein boer en reeds 'n klomp voer vir Herold geskenk het. "Ek glo dié sprekers se boodskappe sal die droogtegeteisterde boere nuwe hoop gee," sê Truter. Volgens Truter is die Help Herold Boere In Nood-projek gemik op hulpverlening aan lede van die vereniging wie se vee vrek weens die voortslepende droogte en honger. Geld wat ingesamel word sal gebruik word om veevoer vanaf plase in ander provinsies na Herold te vervoer.
"Help ons voortbestaan sodat ons in die toekoms, soos in die verlede, julle kan ondersteun," is sy boodskap aan sakeondernemings. "Ons besef dit is nie net by ons droog nie, daarom sit ons nie terug en wag vir hulp nie, maar doen iets daadwerklik om ons lede te help oorleef."
Truter skets die situasie so: "Ons het simpatie met die slagoffers van die brand wat groot gebiede in die Tuinroete in puin gelê het, maar daardie is 'n versekerde ramp - persoonlike versekering en munisipaliteite sal help om die dorpe te herbou.
"Ons ramp, wat besig is om uit te kring en kritiese afmetings aan te neem, is nie verseker nie en het veel erger gevolge: as landbou platval, kan die dorpe in die Tuinroete en Klein-Karoo nie voortbestaan nie - landbou se ondersteuning hou die besighede in die dorpe aan die gang."
Die Agri Herold Landbouvereniging bedien 'n gebied van sowat 70 km 30 km tussen die Outeniqua- en Kammanassieberge en sluit onder meer Waboomskraal, die gebied van Herold tot by Noll, en Mount Hope in. In dié gebied word hoofsaaklik met vee en voergewasse soos hawer, gars en koring geboer.
Die meeste boere is afhanklik van reën wat in gronddamme gestoor word, maar dié damme is leeg. Boorgate voorsien net-net genoeg water vir veesuipings.
Die droogte wat die gebied die afgelope twee jaar teister het daartoe gelei dat voerproduksie misluk het. Boere moes hul vee verminder sodat slegs kernkuddes oorbly.
Van die boere het hul plase verkoop, wat 'n sosiaal-maatskaplike krisis ontketen omdat werkers sonder 'n ander inkomste of heenkome gelaat word.
Honderde werkers word geraak. Plase in die gebied het gemiddeld agt voltydse werkers, elkeen met ten minste vier afhanklikes. Die plase verskaf ook werk aan deeltydse seisoenwerkers wat wolskape of Angorabokke skeer of help met hops- en vrugteproduksie. Bespreek 'n tafel by Dean Barnard by 072 996 1668 of dean@oppieplaasvenue.co.za.
Doen 'n aanlynoorbetaling aan:
Agri Herold Landbouvereniging
Bank: Nedbank
Rekeningnommer: 1626010021
Tak: 162 645
Stuur SMS-bevestiging van inbetaling na Dean Barnard by 072 996 1668.
Vir meer inligting oor die projek, kontak Weber Truter by 082 566 2070 of Christoph Strydom by 082 633 1488, of besoek die Help Herold Boere In Nood op Facebook.
Die verwoestende impak van die droogte in die Suid-Kaap en Klein-Karoo is duidelik sigbaar in hierdie foto's. Foto's: Agri Herold Landbouvereniging.
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'