GRAAFF-REINET NUUS — GWK Veilings het vier jaar gelede besigheid begin doen in die Graaff-Reinet-distrik en het op 8 Junie nuwe hoogtes behaal met ‘n groot- en kleinveeveiling by die dorp se skougronde.
Jan Erasmus, die bestuurder van GWK Veilings Suid, sê dat die personeel bekend is vir spanwerk en dat hierdie veiling nie ‘n uitsondering was nie. Bemarkers vanuit die hele afdeling het saamgewerk om ook van hierdie veiling ‘n sukses te maak.
Erasmus sonder egter vir Jakes Vermaak, GWK Veilings se nuwe bemarker in die area uit. Vermaak is ‘n kenner op die gebied met ‘n agtergrond in landbou, en veral Dormer-teling. Hy was ook aan die stuur van hierdie veiling, waarop 511 stuks grootvee en 755 stuks kleinvee verkoop is. Dit is die grootste veiling wat GWK al in die area aangebied het sedert hulle in Graaff-Reinet veilings aanbied.
Die span beplan om hul huidige vier veilings per jaar in die area te vermeerder na ses veilings per jaar, asook om meer betrokke te raak by plaasveilings. Tevrede kliënte is die riglyn waarvolgens hulle veilings hanteer en hulle is opgewonde om hul verhoudings in dié gebied verder te versterk.
GWK se volgende veiling in die distrik vind op 17 Augustus vanjaar plaas. Jakes Vermaak (082 554 0880) of Renier Zietsman (082 491 5182) kan gekontak word vir enige navrae.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'