MIDDELBURG NUUS — Die Nasionale Merinoram veiling het op Vrydag, 12 Augustus te Grootfontein Landboukollege plaasgevind.
Die vier hoogste pryse op enige Merinoveiling vanjaar is by hierdie prestige geleentheid aangeteken. Die gemiddelde prys van die 78 ramme verkoop was ‘n uitstekende R23 513.
Andrew Jordaan & seuns van Montevideo Merinostoet, Cradock, het die hoogste prys van R160 000 behaal. Die koper was Elandsberg plase van Hermon. Montevideo het ook die derde hoogste prys van R150 000 behaal vir ‘n ram wat deur Hannes van den Heever van Senekal aangeskaf is. Die Jordaans se gemiddelde prys vir hul ses ramme was ‘n allemintige R72 000!
Wellwood Merinostoet van Robert Rubidge, Graaff-Reinet, het ook uitstaande pryse vir sy aanbieding ontvang. Die hoogste prys vir ‘n Wellwood ram was R155 000 wat deur Pat Eustace van Himeville gekoop is. Wicus Cloete van Ermelo het die tweede hooste prys ram van hierdie stoet vir R100 000 gekoop. Wellwood behaal ‘n gemiddeld van R49 900 vir hul tien ramme op die veiling.
Ander verkopers wat baie goed gevaar het was Henri McNaughton & seuns van Charmac, Graaff-Reinet, met ‘n gemiddeld van R37 333 vir drie ramme; Andries Pienaar & seuns van Trumps Merino’s, Hanover, met ‘n gemiddeld van R28 714 vir sewe ramme; Groep 3 van Graaff-Reinet met ‘n gemiddeld van R28 600 vir vyf ramme.
Merino SA wens die kopers geluk met ‘n besonder hoë gehalte aanbieding en vertrou die kopers sal hoogs tevrede wees met die puik ramme wat hulle aangeskaf het.
Wellwood Merino’s van Graaff-Reinet het die tweede hoogste prys van R155 000 op die Nasionale Merinoram veiling ontvang vir hierdie ram. Bo verskyn Kopers Sandy en Pat Eustace van Himeville en Robert Rubidge, verkoper.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'