LANDBOU NUUS & VIDEO - "Sit jou TV af, hou op koerant lees en gaan boer. Daar ís 'n toekoms vir landbou in Suid-Afrika."
Só het Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, boere raad gegee by 'n streekkongres van die Eden- en Hessequadistrikte voordat hy verder gesels het oor die talle kwessies wat tans voor landbou se deur lê. Opperman het gesê baie boere vra hom of daar nog 'n toekoms vir hulle in die land is en dan is sy reaksie positief.
Die kongres is Dinsdag by die saal van die Outeniqualand-landbouvereniging buite George gehou. Na aanleiding van die tallose verwoestende brande tydens die huidige brandseisoen het Opperman gesê daar word gewerk aan die daarstel van verbeterde brandbeheer in landelike gebiede, onder meer deur brandbakkies op plase beskikbaar te maak. Hy het ook geraak aan die implikasies van die voorgestelde nasionale minimumloon op boere en klem gelê op die nakoming van arbeidswetgewing.
Boere in Hessequa en Eden kan 'n toename in inspeksies van die Arbeidsdepartement verwag. Die nasionale minimumloon sal boere nie op een slag tref nie, want hulle sal aanvanklik 'n korting ontvang. Dié loon, wat na verwagting in Mei 2018 in werking sal tree, gaan vir twee jaar tot 2020 konstant bly. Teen die huidige jaarlikse inflasiegekoppelde loonverhogings wat boere betaal, sal hulle teen 2020 die voorgestelde minimumloonvlak bereik.
Veiligheidsituasie 'bitter ernstig'
Opperman het gesê die veiligheidsituasie in landelike gebiede raak "bitter ernstig" en boere moet hulleself paraat maak. Agri SA werk reeds aan 'n landelike veiligheidsplan waarvolgens staatsdepartemente, nie-regeringsorganisasies en landbou sal saamwerk om veiligheid te verbeter.
Hy het sy kommer gelug oor die onteieningswet wat pas na die parlement terugverwys is. Hy was deel van 'n agt jaar lange proses om die wet te finaliseer. Hoewel hy "kriewelrig" was oor 'n deel in die wet wat die howe se magte "'n bietjie sou inkort", sou daar billike vergoeding wees en was die wet binne die Grondwetlike raamwerk. In die huidige politieke klimaat met geluide in die parlement oor onteiening sonder vergoeding, is die gevaar daar dat die wet nou oopgemaak word vir meer verreikende veranderings, het Opperman gesê.
'Boere moenie paniekerig raak nie'
Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het in sy toespraak 'n ernstige beroep op boere gedoen om hulle gewig agter Agri Wes-Kaap in te gooi en so gesamentlik die uitdagings van kommersiële landbou die hoof te bied. Boere word direk geraak deur die retoriek oor radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding wat al ernstiger word. Agri Wes-Kaap gaan meer as ooit in sy bestaan die buffer moet wees wat gaan keer dat drastiese verandering die kommersiële landbousektor negatief beïnvloed. Daarvoor gaan die organisasie meer kundigheid betrek deur 'n voltydse ekonoom en regskundige deel van hul struktuur te maak. "Jou deelname sorg dat die basis van die landbou se saak altyd sterker gaan wees as die basis van die regering se planne."
Hy het gesê boere in Suid-Afrika is "uitgelewer aan alles wat politici, vakbonde en nie-regeringsorganisasies bereid is om vir mag te doen", maar hulle moenie paniekerig raak nie. "Iemand wat paniekerig raak, het 'n slagoffer geword. En slagoffers wil brexit. Hulle wil uit. Uit hulle landbouvereniging uit en uit die landbou uit en uit die land uit.
"In 2017 gaan ons die lyn moet trek. As jy wil kla en niks opbouend wil bydra nie, gaan staan daai kant van die lyn. As jy konstruktief wil deel wees van die georganiseerde landbou en as spanspeler wil help bou aan 'n volhoubare landboutoekoms, kom staan dié kant," het hy afgesluit.
Ekonomiese vooruitsigte
Ou Mutual Beleggingsgroep-ekonoom, Johann Els het sy vooruitsigte vir 2017 gedeel en voorspel dat die plaaslike ekonomie vanjaar heelwat beter gaan vaar met inflasie van onder 5% teen die middel van die jaar en gevolglik laer rentekoerse. Kommoditeitspryse het versterk en die reën in die noorde van die land met gevolglike uitstekende mielieoeste, asook hoër toeristegetalle dra als by tot 'n effense oplewing wat verwag word. Politieke onsekerheid speel egter steeds 'n negatiewe rol en vir beter ekonomiese groei, moet dit verander.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'