MIDDELBURG — Die Grootfontein Dohne Merinostoet, wat op Vrydag 24 Februarie, hul 10de produksieveiling hou, is in 2001 op versoek van die wolbedryf gestig.
Die doel was om ‘n dubbeldoelskaap met goeie slageienskappe wat superfynwol produseer, maar steeds ‘n hoë reproduksietempo kan handhaaf, te ontwikkel.
Die stoetery is aanvanklik gevestig deur die fynste ooie met bogemiddelde liggaamsmassas van verskeie Dohne Merino telers aan te koop. Tot 2006 is 255 ooie aangekoop. Hierdie ooie is aanvanklik met ramme uit die bedryf, wat oor die nodige grootte en fynheid beskik het, gepaar. Sedert 2008 is daar hoofsaaklik van selfgeteelde ramme in die stoetery gebruik gemaak.
Die Grootfontein Dohne Merino stoet vorm deel van verskillende navorsingsprojekte van Grootfontein Landbounavorsings Instituut. Dit is deel van die Grootfontein biologiese bank en voorsien hierdeur data en bloedmonsters vir genomiese navorsing oor die verwantskap tussen reproduksie en liggaamsmassa in verskillende skaaprasse, asook vir ondersoeke na weerstand teen haarwurm.
‘n Nuwe projek waarmee onlangs in die stoetery begin is, behels die ondersoek na seleksie strategieë gebaseer op maternale teelwaardes vir vroeë liggaamsmassas.
Die stoet bestaan tans uit 420 ooie en spog met ‘n gemiddelde lampersentasie van 140%.
Grootfontein Dohne Merinostoet bedank al hul lojale ondersteuners en kopers van die afgelope 10 jaar en sien uit daarna om almal by die 10de Produksie Veiling te Grootfontein Landboukollege te sien op Vrydag 24 Februarie, om 11vm.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'