Die huis is weer leeg, Bloedjie is terug universiteit toe. Tussendeur werk, eet en slaap, dink ek terug aan 'n fase in my lewe wat voel asof dit gister was. Ons het vir 13 jaar op 'n klein dorpie gewoon, en as ek terugdink voel dit soos gister wat die kleinste mensie deel geword het van my lewe.
Dit was 'n absolute voorreg om my kind self te kon grootmaak. Ek was daar met elke mylpaal - kon saam juig en handeklap, saam leer en ervaar. Kinderopvoeding het my nog altyd na aan die hart gelê.
Ek en Bloedjie het weekliks boeke by die plaaslike biblioteek gaan uitneem en dit behoorlik verslind. Ons het van elke geleentheid 'n leergeleentheid gemaak. Saans het ek drie stories voorgelees, een Bybelstorie, een opvoedkundige storie en dan 'n storie-storie.
Die dun boekies het dik boeke geraak en so het Bloedjie self saans sy boeke begin lees. Ek het dit geniet om hom te leer, en het self ook baie geleer.
Nou is hy groot en sy begrip en algemene kennis is verstommend. Ek glo tot vandag toe dat lees die beste geweer is - moedig jou kinders aan om te lees. Alles het so vinnig geword, dat om rustig met 'n boek te gaan sit, soos 'n sonde voel.
Die maand Maart is nasionale leesmaand ter herdenking van die uitstekende skrywer, dr. Suess se verjaardag. Besoek gerus jou plaaslike biblioteek en ruik die blaaie van 'n boek wanneer jy daardeur blaai. Wanneer jy met begrip kan lees, is die wêreld se deure vir jou oop. Ek het altyd vir Bloedjie gesê mens het min vriende in die lewe nodig, laat lees jou beste vriend word - hy het 'n gunsteling boek gehad wat hy seker 100 maal oor en oor gelees het, as jou kind die behoefte het om dit te doen, laat hom toe, dit is immers 'n ontsnapping na 'n ander wêreld.
Op my bedkassie lê drie verskillende boeke, tans lees ek aan The skin collector, Moer en Huis van gruwels, en beoog ek wanneer dit klaar is om weer 'n draai by die boekwinkel te gaan maak.
Lekker lees Graaff-Reinet.