GRAAFF-REINET NEWS - Volgende Saterdagaand, 16 Maart, tree Gerrit Rautenbach en Richard van der Westhuizen in Graaff-Reinet op.
Met 'n vertoning, genaamd 'Radio Langpad', gaan dié duo die gehoor trakteer met 'n aand van reisliedjies en stories al die pad van Nababeep tot in Tibet.
Richard van der Westhuizen is 'n bekende Suid-Afrikaanse akteur, sanger en liedjieskrywer. In 'n loopbaan wat strek oor bykans 30 jaar, het hy verskeie hoofrolle op die verhoog, televisie, radio en in rolprente vertolk. Hy het ook al ses musiekalbums vrygestel, waarvan twee goue status behaal het.
In 1986 het hy die die temalied vir die gewilde televisiereeks, Ballade vir 'n Enkeling, geskryf en gesing, en kort daarna volg hy dit toe op met die liedjie Tussen Treine, wat 'n groot treffer geword het. Beide liedjies is nog steeds uiters gewild, en word nog gereeld deur verskeie kunstenaars gesing.
Gerrit Rautenbach is 'n reisiger, reisskrywer en fotograaf.
Sy reislus het begin toe sy ma vir hom Gulliver se reise voorgelees het. Hy was drie.
'n Paar jaar later het hy alleen op die Magaliesberg gaan slaap. Sedertdien het hy 'n paar nagte in 'n paar vreemder plekke geslaap. Soos die woestyn in Saoedi-Arabië. Onder die Charles-brug in Praag. Bo-op Kilimandjaro. Die diep Namib. Hy was drie jaar in Europa, 300 kilometer ver in die Arktiese Sirkel, en het meer as 20 reise deur Afrika onderneem. Op een was hy die eerste skrywer ooit wat die magiese Kuamboka-seremonie in Barotseland, Wes-Zambië opgeskryf het.
Sy eerste bundel reisverhale, Kopreis (Queillerie) is in 2011 uitgegee. Kort daarna het nóg twee boeke, Hartepad en Mooiloop, gevolg.
Kaartjies vir dié spesiale vertoning, wat by The Village om 19:00 die aand van 16 Maart sal plaasvind, is te koop by Our Yard in Somersetstraat of by The Village, geleë te Kollegeweg 29.
Kaartjies beloop R160 per persoon, en sluit Gourmet Boerie en Burger mandjie met tjips en 'n Cream Soda Float in.
Diegene wat meer inligting hieromtrent verlang, kan André van Rensburg skakel by 071 870 5081.
Gerrit Rautenbach.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'