OUDTSHOORN NUUS - Aanhangers van die skerpskertser Schalk Bezuidenhout sal gou moet wikkel as hulle hom wil sien optree by vanjaar se Klein-Karoo Nasionale Kunstefees.
Hy het geen bekendstelling nodig nie: Sy video's op Facebook en Instagram was vir tienduisende Suid-Afrikaners die beste lagmedisyne sedert die inperking begin het.
Schalk kuier slegs op 29 en 30 Maart by die fees met twee produksies: Schalk Sing Sleg en Transpirant.
In Schalk Sing Sleg tree hy op saam met die musikant Wesley van der Westhuizen. Sy ondersteuners reken dis is sy beste vertoning nog.
Daar is natuurlik komedie, maar ook oorspronklike lirieke en musiek en verskeie instrumente met Schalk wat twee bespeel. Kom tuit jou ore en lag jouself 'n papie, want sy liedjies sal jou laat mis, eet, slaap, herhaal én skater!
Schalk Sing Sleg is op Dinsdag 29 Maart om 10:00 en Woensdag 30 Maart om 17:30 in die kykNET-Hoërskoolsaal. Bespreek nou by Webtickets.
In Transpirant tree Schalk op saam met die akteur en man agter die kykNET-reeks Hotel, Bennie Fourie.
Die vertoning bestaan uit sketskomedie en is propvol improvisasie, 'n bietjie struktuur, 'n liedjie of twee en minstens een ongemaklike stilte. Jy gaan op presies dieselfde manier uit die vertoning stap as wat jy ingestap het, net ligter.
Transpirant is op Dinsdag 29 Maart om 14:00 en Woensdag 30 Maart om 10:00, ook in die kykNET-Hoërskoolsaal. Bespreek nou by Webtickets.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'