GRAAFF-REINET — Die verskeidenheidskonsert wat deur die ATKV Volksmond-jeugtak van HVS onder leiding van Milona Dörfling en Magda van Heerden aangebied is, was ’n reuse sukses.
Die klavier- en sangduet van Engeri Fourie en Linda Lötter het talle na ’n traantjie laat pik, net om daarna te kraai van die lag vir die skreeusnaakse matrieks se boereweergawe van Aspoestertjie.
Die graad 8’s het die immergewilde Pinocchio opgevoer. Daar is ook verder vermaak met verskeie uitstekende toneel- en dansitems. Liedjies soos “Mamma Mia”, “Lang maer blonde man”, Grease-treffers en die uitstekende uitvoering van “Hey, Big Spender” deur Melissa van der Mescht het almal laat terugverlang na die goeie ou dae.
Aspoestertjie is aangewys as die beste vertoning van die aand. Nadat Aspoestertjie (Elbé van der Merwe) en haar boerprins (JC Conradie) die wisseltrofee ontvang het, is almal huis toe met ’n ligter gemoed en opgewonde om volgende jaar se meesterstukke te aanskou.
Baie dankie aan die Volksmond-ouers wat gesorg het vir ’n smaaklike verskeidenheid van soppe en tuisgebakte brode.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'