NASIONALE NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Mothership Studios het onlangs met 'n eksklusiewe musiekreeks begin wat tot 24 September duur en in die gemak van musiekliefhebbers se huise geniet kan word.
Die Mothership Sessions-optredes is in Karen Zoid se studio opgeneem.
"Daar sal heel waarskynlik nie weer in die nabye toekoms enige 'live' shows aangebied kan word nie, maar dit verhoed ons nie om steeds musiek vir ons mense te maak nie," sê Zoid.
Donderdag 20 Augustus kom Watershed, een van die land se gewildste uitvoerprodukte, aan die beurt.
Aanhangers van Jan Blohm kan Donderdag 27 Augustus regskuif vir "die show van 'n leeftyd" wat beloof om meesleurend, rou en eerlik te wees.
Elvis Blue bied op Donderdag 3 September 'n sielvolle vertoning aan met van sy gewildste liedjies en op Donderdag 10 September betower Anna Davel kykers met 'n musikale reis van akoestiese klavier, saksofoon en melodieë. Sy sing van haar eie liedjies, sowel as musiek deur van die grootste legendes van ons tyd.
Die opkomende ster Roan Ash is Donderdag 17 September aan die beurt en die reeks word op Donderdag 24 September met Eet Kreef! afgesluit. Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese album word 30 jaar nadat dit oorspronklik uitgereik is gevier.
Optredes sal elke Donderdagaand aanlyn uitgesaai word en tot die Sondag beskikbaar wees om te kyk. Musiekliefhebbers vanoor die wêreld kan inskakel vir die Mothership Sessions-reeks en elke konsert in hoë-definisie geniet.
Kaartjies kos slegs R150 per konsert vir die hele gesin om saam te geniet en is beskikbaar op www.webtickets.co.za, vanwaar die optredes ook gekyk kan word op 'n baie gebruikersvriendelike platform.
Musiekliefhebbers kan ook met die aankoop van kaartjies 'n donasie aan die Tribuo-fonds maak.
Dié hulpfonds is gestig om betrokkenes in die uitvoerende kunste tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun.
Meer inligting is beskikbaar op www.kknk.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'