GEORGE NUUS - Die vierde Klikkerland DVD propvol gehalte musikale vermaak vir kinders is die maand vrygestel om die aandag van meer ouderdomsgroepe te trek.
Klikkerland is in die hartjie van die Tuinroete gebore toe 'n groep kunstenaars, met 'n passie vir kindervermaak en teater, mekaar by die Oakhurst Insurance George Arts Theatre ontmoet het en besluit het om 'n opvoedkundige DVD-reeks vir kinders tussen die ouderdom van drie en nege uit te bring.
Die teater huisves ook tans die Klikkerland-stel. Liedjies is getoonset, draaiboeke is geskryf en die kleurvolle karakters is ontwikkel.
Marinda Fourie en Carina Beukes is die twee vroue agter die kleurvolle karakters wat goed beplan is, sodat daar 'n persoonlikheidstipe is waarmee elke kind hom of haarself kan vereenselwig. Selfs die name van die karakters is gekies om te help om kindertongetjies te oefen om moeilike klanke uit te spreek. Dit is ook ideaal vir kykers wie se huistaal nie Afrikaans is nie.
Carina vertel: "Die nuwe DVD-vrystelling dek 'n wye verskeidenheid opwindende en moderne temas, wat wissel van die belangrikheid van insekte tot die towerkrag van die verbeelding. Dit bevat ook heerlike sang- en dansnommertjies, selfdoenprojekte, kos en uitstappies, waarby gehore sommer dadelik aanklank sal vind.
"Klikkerland het gegroei van drie tot ses karakters. Met elke nuwe uitgawe, raak dit makliker om programme te skryf en te skep, omdat ons leer wat werk en wat die behoeftes van die aanhangers is. Ons musiek is vrolik en lekker om mee saam te sing. Die karakters Huppel Hoepel, Boebel Babbel, Woepel Wappel, Rimmel Rammel, Tink Tinkie en Liela Loela het hope pret."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'