GRAAFF-REINET NUUS — Die organiseerders van die jaarlikse Karoo-lusfees het onlangs die kunstenaars bekend gemaak wat tydens die agtste weergawe van dié fees op die verhoog gaan optree en dis omtrent 'n ster-belaaide program.
Dié jaar se fees vind plaas op 28 en 29 September by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet en beloof om weereens die Karoo op horings te neem met 'n vol program van vermaak, die land se beste kunstenaars, talle stalletjies en opwindende speelritte.
Die groot geeste in die Afrikaanse musiekbedryf wat hul opwagting sal maak vir dié jaarlikse skouspel, sluit bekende sangers soos Dewald Wasserfall, Riana Nel en The Campbells in. Vanjaar sal Leah, Fatman, Touch of Class en Jo Black ook hul debuut by die fees maak, terwyl kunstenaars soos Emo Adams, Appel en Snotkop ook die gehoor sal vermaak. Een van die fees se organiseerders, Bronwen Jacobs, meen dat die reaksie uit die gemeenskap oor die beplande kunstenaars oorweldigend positief is en dat die voorbereiding vir die fees goed vorder.
"Voorbereiding vir die fees loop besonder goed. Ons is baie opgewonde oor die kunstenaars wat die fees gaan bywoon," sê Jacobs. Jacobs het ook genoem dat die fees, wat in die 2014 deur hoofborge Montego Pet Nutrition, Octofin en die Botaniese Sportklub as liefdadigheid- en bemarkingprojek oorgeneem is, net beter en beter word by die jaar. Die toegangsfooi tot die fees bly minimaal en sal al die kunstenaars teen slegs R80 per persoon per dag en R60 vir kinders onder die ouderdom van 12 en pensionarisse gesien kan word.
Naweekkaartjies sal beskikbaar wees teen R150 per persoon of R110 per kind of pensionaris. Toegang vir kinders onder die ouderdom van 3 is soos gewoonlik, gratis.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'