Gallery
GRAAFF-REINET — Weer eens het die organiseerders van Karoo-lus vir ‘n fantastiese fees oor die pas afgelope naweek gesorg.
Duisende feesgangers het aan heerlike eetgoed gesmul en ‘n wye verskeidenheid van handwerkstalletjies, lewende vermaak en pretritte geniet - om nie eers van die wye verskeidenheid aktiwiteite te praat nie.
Die groot trekpleister was Robbie Wessels wat Vrydagaand, en 4werke en Dr Victor & the Rasta Rebels wat die volgende aand opgetree het, die res van die kunstenaars was net so indrukwekkend.
Beide aande het die bekende musikante se lewendige treffers gesorg dat die atmosfeer en gees tasbaar was.
Die terrein was oudergewoonte volgepak met duisende plaaslike feesgangers asook nasionale gaste.
Op plaaslike bodem het organisasies soos die Camdeboo Sterilization Initiative, die Rapportryers, die Weppie Preppie-kleuterskool, Huis van de Graaff en talle ander vir spogvermaak gesorg deur elk ‘n prettige aktiwiteit by die fees aan te bied - daar was kindervermaak, ’n spookhuis, ‘n bergfietswedren, ’n padwedloop en ‘n toutrek-kompetisie onder andere.
Die fees, wat deur Montego Pet Nutrition, in samewerking met die Octofin groep van maatskappye en Absa aangebied word, is by die Botaniese Sportgronde gehou.
Ongeveer 7 400 mense het volgens die organiseerders tydens die twee dae van die fees deur die hekke gestroom. Honderde meer as verlede jaar.
“’n Fees van hierdie gehalte kan nie plaasvind sonder puik borge nie, daarom bedank ons almal vir hul bydraes - groot en klein”, het ’n woordvoerder van die fees aan die Graaff-Reinet Advertiser gesê.
Sedert sy ontstaan in 2010 het die fees van krag tot krag gegroei tot die sukses wat dit tans is.
Vandag is Karoo-lus die grootste geleentheid op die dorp se jaarlikse kalender en sal min Graaff-Reinetters die kans om te gaan inloer laat verbyglip.
Dié jaar se fees was een van die mees suksesvolste tot dusver, met ‘n allemintige 120 stalletjies teenwoordig by die fees en meer aktiwiteite as ooit van te vore – die aantal besoekers het ook nie teleurgestel nie.
Komplimente stroom sedert die fees gehou is daagliks op sosiale media in en is die organiseerders geweldig dankbaar vir die ondersteuning wat hul van die plaaslike gemeenskap en feesgangers ontvang.
Daar was natuurlik vermaak vir die kleinspan ook.
Talle liefdadigheidsorganisasies trek soos oudergewoonte voordeel uit dié fees en sal hul binnekort ‘n kontant-inspuiting ter stuiwing van hul fondse vanaf die organiseerders ontvang. (Daar sal eersdaags hieroor 'n opvolg-berig geplaas word - die syfers word nog gefinaliseer.)
Die Karoo-lus fees kan reeds nou al in dagboeke vir 2018 oor die naweek van 28 en 29 September gepen word.
Om dit van nader te beleef, gaan kyk gerus na die foto’s wat geneem is deur Sonette Crouse deur www.graaffreinetadvertiser.com te besoek.
Kyk video hieronder
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'