Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO — Lidmate van die NG Graaff-Reinet-gemeente was Saterdagmiddag in ekstase na afloop van die grootste én mees suksesvolle kermis wat 'n NG-kerk in die dorp in dekades gehou het.
Dr. Ben van Tonder, wat met die aftrede van ds. Trix Truter einde verlede maand die leisels as alleen-leraar oorgeneem het by hierdie nuut-herenigde gemeente, het vandeesweek aan die Advertiser vertel dat die naweek se kermis by die Botaniese-sportgronde, oftewel die 'Winterfees' soos dit bekend staan, die gemeente van vooraf bewus gemaak het van hoe harde werk en saamwerk geseën en beloon word.
"Beide die voormalige Grootkerk- en Nuwekerk-gemeentes het voorheen jaarliks 'n kermis of basaar gehou om geld in te samel - dié jaar was die eerste jaar wat die twee gemeentes dit saam as een nuwe gemeente aangepak het," vertel dr. Ben van Tonder. "Die sukses behaal getuig daarvan dat die baie werk die moeite werd is as dit reg beplan en aangepak word."
Sedert vroeg vanjaar was die beplanning van die kermis, onder die stuur van die reëlingskomitee se hoof, Johan van Jaarsveld, in volle swang.
Die reëlingskomitee het aan die gemeente 'n breë raamwerk voorsien van hoe só 'n kermis aangepak moet word. Na voorstelle gegee is van watter tafels daar by die kermis moet wees, het tafelsameroepers spontaan uit die gemeente aangemeld vir diens.
"Hulle het elkeen die leiding geneem vir hul tafels en was verantwoordelik vir hul eie helpers en produkte. Aan die einde van die dag was nagenoeg 100 mense altesaam betrokke by die kermis se reëlings," sê dr. Van Tonder.
Hy vertel verder dat die senuwees maar redelik geknaag het in die week voor die beoogde kermis. "Toe die eerste besoekers Saterdag begin inkom, het die gemeentelede ontspan, want almal het geweet wat om te doen.
Kyk 'n video hieronder.
In die ure tussen 09:00 en 13:00 was ons ook heeltyd besig en die besoekersgetalle het al ons verwagtinge oortref."
"Ons het uit die staanspoor vir mekaar gesê dat ons oogmerk met hierdie kermis is om saam te werk om die lig van Christus in die gemeenskap te laat skyn. Ons het 'n verantwoordelikheid om diens aan die samelewing te lewer. Enige geld wat ingesamel word deur die kermis, sou ons as 'n bonus beskou," vertel hy verder.
"Maar ons wildste verwagtinge is oortref deur die finansiële sukses wat ons met hierdie kermis behaal het. Nog nooit in die gemeente se geskiedenis, so ver ons kennis strek, het 'n enkele geldinsameling soveel geld op die dag ingebring nie.
Alle eer aan die Here en ons bedank die gemeenskap wat ons Saterdag getrou ondersteun het uit ons harte," het dr. Van Tonder dankbaar bygevoeg.
Die geld wat deur Saterdag se kermis geïn is, sal aangewend word vir erediensinstandhouding, gemeenskapsprojekte en evangelisasie deur dié kerk.
Tydens terugvoer oor die kermis wat Sondagoggend tydens die kerk se erediens oorgedra is, het Johan van Jaarsveld genoem dat daar gehoop word om die fees 'n móét-besoek geleentheid op Graaff-Reinet se jaarlikse kalender te maak.
Heerlike samesyn by die kermis.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'