VERMAAKLIKHEIDSNUUS EN VIDEO - Die KKNK is om die draai en Lizz Meiring, 'n talentvolle skrywer en kunstenaar, is hier met 'n besondere komedie, "Die Van Vuurens vat vlam."
Die stuk is deur Lizz Meiring geskryf, en die legendariese regisseur, Andre Odendaal, vat die leisels van die toneelspel.
Hierdie produksie beloof om 'n opwindende ervaring te wees, met Cara Meiring en David Kuduntwane wat hulle rolle vertolk, vars uit universiteit.
Waaroor gaan die verhaal?
Sterna van Vuuren het lank in die buiteland gewerk. Haar broerskind, die jong wetenskapstudent, Bernadette van Vuuren, bly intussen in haar townhouse, gratis. Sterna van Vuuren daag onverwags op. Die tante-en-niggie-verhouding is nogal plofbaar. Daar is 'n kink in die kabel, of is dit nou 'n fungi in 'n bottel? Want nou bly haar komiese mimiek-kunstenaar-boytjie, Flippie van Vuuren, ook daar. Intussen het Bernadette en Flippie Sterna se townhouse in 'n eienaardige spasie verander. Want dié twee het unieke toekomsdrome. Dié rare, donker komedie is 'n vrolike en dikwels laserskerp verhaal van verskillende generasies se standpunte, foute, en ambisies. Dit is slim, snaaks, oorspronklik, en verrassend. Gaan die Van Vuurens se vreemde familiekwaal die vuur aanblaas?
As mense belangstel om die vertoning by te woon, is dit 'n goeie idee om kaartjies vroegtydig op webtickets te bespreek om teleurstelling te voorkom. Hierdie produksie beloof om 'n spesiale bydrae tot die fees te wees.
Verskafde video: Lizz Meiring gesels oor haar nuutste produksie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’