SUID-KAAP NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het spesiale verskerpte veiligheidsmaatreëls aangekondig na aanleiding van 'n voorval waartydens 'n toeris deur straatkinders in Oudtshoorn aangeval is.
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK het vandeesweek gesê: "Om toe te sien dat die fees veilig aangebied word, sorg ons vir sekuriteit by terreine onder ons direkte beheer. Die areas, waaronder die Rivierbuurt en Baron van Reedestraat, is kindervriendelik en dit is vir ons belangrik dat families hulself hier kan geniet.
"Ons het 'n baie parate sekuriteitdiensverskaffer, Metro City Protection Services, en ontvang uitstekende samewerking van die SAPD en munisipale wetstoepassers. Al hierdie instansies word uit die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS), onder bevel van die SAPD, bedryf en is verantwoordelik vir die oorkoepelende bestuur en veiligheid by die fees," sê Snyman.
Ons verseker graag alle feesgangers dat hulle veiligheid by vanjaar se KKNK 'n top-prioriteit is en dat alles in ons vermoë gedoen word om toe te sien dat besoekers 'n feestelike tyd op Oudtshoorn beleef."
Volgens haar is sekerheidsbeamptes in uniform en maklik om te identifiseer. "Indien daar enige voorvalle is, kan hulp maklik en vinnig ontbied word en die GOS stel beamptes in staat om hulp in te roep indien daar 'n noodsituasie is. Die brandweer, ambulans, mediesedienste en verkeer is ook deel van die GOS, wat 24 uur per dag beman word."
Volgens Rudi du Toit, operasionele bestuurder van Metro City Protection Services, is hulle daartoe verbind om 'n veilige KKNK 2017 te verseker. "Ons is bewus van die uitdagings rondom die huidige situasie in Oudtshoorn en juis vir die doel, en om ander onaangename verrassings te vermy, is 'n omslagtige risiko-analise gedoen. Ons is deeglik voorberei om die beste diens aan die fees te lewer," sê hy.
Du Toit sê dat hulle bykomend tot die wagte wat ontplooi word, ook verskeie gespesialiseerde wetstoepassers by hulle taakmag insluit. "Hierdie groep is volledig toegerus om enige situasie te hanteer en hulle opdrag is baie eenvoudig: hou die fees veilig. Metro City Protection Service sien uit na 'n veilige en suksesvolle KKNK."
Snyman benadruk egter dat feesgangers paraat moet wees en nie waardevolle items op plekke moet los wat maklike teikens is nie.
Die KKNK begin op Saterdag 8 April en kom op Saterdag 15 April tot 'n einde. Die feesdatums val binne die nasionale skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek. Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za.
Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'