SUID-KAAP NUUS - Vanjaar se Klein Karoo Klassique begin met kitaar-hoogtepunte in 'n uitvoering deur die virtuose kitaarduo, CH2 (Corneille Hutten en Dirkie van Staden).
Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Vrydag 11 tot Sondag 13 Augustus aangebied.
Dit is hulle eerste optrede by Klein Karoo Klassique en Hutten sê hulle is baie opgewonde oor die musiek wat hulle gaan uitvoer.
"Ons fokus op verskeidenheid en voer stukke uit wat strek vanaf die Baroktydperk tot hedendaagse treffers, getoonset vir klassieke en Spaanse kitaar," sê hy.
Van die musiek wat hulle uitvoer sluit klassieke meesterstukke van Tárrega, Rodrigo, Bach en ander treffers soos Tussen treine, Vyfster en hul eie unieke flamenco-styl komposisies in. Met vlytige vingers, meesterlike tegniek en gemaklike verhoogpersoonlikhede voer hulle 'n kombinasie van klassieke musiek, polsende Latyns, Spaans, Afrika-musiek en 'n skeut nostalgie uit, met unieke klanke in hul eiesoortige styl.
"Feeste is van kardinale belang om aan kunstenaars 'n platform te gee om hulle styl en mu-siek aan feesgangers bekend te stel," sê Hutten.
CH2 bestaan reeds 15 jaar en gaan van krag tot krag, met hulle 11de CD, Insomnia, wat later vanjaar bekendgestel word. Dié CD sal na die uitvoering by Klein Karoo Klassique te koop wees.
Hulle is reeds verskeie kere bekroon, met Sama-toekennings vir beste instrumentale / klassieke album in 2013 en 2012 en as wenners van die Wêreld Klassieke / Flamenco-kategorie in die 2011 Lee Ritenour Six String Theory International Guitar Competition, in Bigfork, Montana as hoogtepunte. Hulle het ook reeds verskeie suksesvolle internasionale toere en optredes meegemaak.
CH2 in konsert vind plaas op Vrydag 11 Augustus om 18:00 in die NG Moederkerk op Oudtshoorn. Al vanjaar se uitvoerings vind hier plaas, waar daar ook 'n CD-winkel en proe-ervarings uit die kontrei aangebied word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home en kos R125 elk.
Program
Die program sluit onder meer ook in Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek met Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag); Folk Baroque met die Camerata Tinta Barocca; Alleenstryd: Hendrik Hofmeyr Huldigingskonsert met Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en 'n gasoptrede deur Hendrik Hofmeyr; Carmen – in die kleine met Jolenne McCleland as Carmen (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa as Michaëla / Frascuita (sopraan), Minette du Toit-Pearce as Mercédès (mezzo-sopraan), Chris Mostert as Don José / Le Remendado (tenoor), Niël Rademan as Escamillo (bariton) en Raimondo van Staden as Le Dancaïre (bariton); Spieël-dans in die maanlig met Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello); Beethoven Tango met Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klavier) en die ATKV Afsluitingskonsert met Megan-Geoffrey Prins (klavier), Tatiana Thaele (fluit), Palesa Malieloa (sopraan) en Philippus Hugo (klavier).
Meer inligting oor Klein Karoo Klassique en die volledige musiekprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za, of op Facebook, of Twitter.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'