OUDTSHOORN NUUS - Weekkaartjies na die feesterrein (bekend as die Rivierbuurt) van hierdie jaar se KKNK, wat van 8 tot 15 April op Oudtshoorn aangebied word, kan vandag (17 Januarie) teen slegs R150 by Computicket, Shoprite en Checkers gekoop word.
Feesgangers spaar met hierdie promosie R100 per kaartjie.
Dié winskoop is slegs vandag geldig en daar is ’n beperkte aantal winskoopkaartjies beskikbaar. Dagkaartjies na die Rivierbuurt kos R50 per dag.
Hierdie weekkaartjies bied toegang tot agt dae propvol vermaak vir oud en jonk. Bring jou hele familie en kom kuier in die Rivierbuurt met aandvertonings deur gunstelinge soos Juanita du Plessis, Dr. Victor, Theuns Jordaan, Kurt Darren, Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, Rhema Varrie, Leah en vele meer.
Kuns- en kosstalletjies is volop, proe heerlike wyn en deli-happies in Liplekker en ontsnap van die Oudtshoorn-hitte by ’n kroeg of rusarea. Smulkos word bedien by die feesrestaurant in Hap-en-Tap.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies na alle vertonings is van vandag af beskikbaar by Computicket, Shoprite en Checkers.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'