GRAAFF-REINET NUUS — ’n Nuwe glanspaartjie vir Hoër Volkskool is verlede Woensdagaand tydens die Mnr en Mej Volkskool-kompetisie gekroon.
Die Botanies Sportklub was in prag en praal vir die geleentheid waar twintig van die skool se leerders hul lywe model gehou het om as ambassadeurs vir die skool gekies te word.
Voor 'n volgepakte saal het deelnemers 'n dansitem gelewer waarna hulle op die loopplank in hul sokkie-uitrustings en formele drag verskyn het.
‘n Paneel beoordelaars moes die deelnemers fyn dophou om te besluit wie hulle die beste van hul taak gekwyt het en het die deelnemers die gehoor en beoordelaars omtrent met hul natuurlikheid, sjarme en skoonheid bekoor.
Ontluikende sangers en mede-leerders Tiané Lombard, ‘n Graad 9-leerder van Hoër Volkskool, asook Linda Lötter (Graad 10) begelei deur Engeri Fourie (Graad 11) op die klavier, het die gehoor deur die loop van die aand met hul fluweelstemme vermaak. Melissa van der Nest, wat verlede jaar by Volkskool matrikuleer het, het ook 'n item gelewer.
Die spanning het toegeneem toe die top-vyf aangewys is - elk van dié finaliste het toe 'n vraag beantwoord waarna die gehoor met opgehoude asems gewag het om te hoor wie as wenners aangewys gaan word.
Christi Theron en Danielle Nel is toe onder luide toejuiging deur Pieter Pienaar - 'n oudskolier van Hoër Volkskool wat in sy matriekjaar in 2006 as eerste prins in die einste kompetisie aangewys is - as die nuwe Mnr en Mej Volkskool aangewys.
Familie en vriende het daarna toegekyk hoe Heinz Bertram en Madel Piek (tweede prins en prinses) en Stephan Lategan en Melissa van Veijeren (eerste prins en prinses) in glinsterende rokke en sjarmante aandpakke ‘n draai op die verhoog gemaak het om hul krone en toekennings te ontvang.
Elbe van der Merwe, die uittredende Mej Volkskool, was byderhand om te help met die die oorhandiging van die titels.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'