NASIONALE NUUS - 'n Groot aantal Ladismithers het die Bloemfonteinse 'It's Time'-gebedsbyeenkoms van Angus Buchan in April bygewoon. Hulle het begeesterd teruggekom met 'n visie om 'n soortgelyke geleentheid in Kannaland te hou. Dit vind plaas op Saterdag 10 Junie by Towerkop-park in Ladismith en begin met lofsang vanaf 11:00.
Tydens ’n vergadering waar ongeveer 70 gelowiges uit verskillende dele van die gemeenskap bymekaargekom het, het die behoefte ontstaan om soveel as moontlik mede-gelowiges bymekaar te kry om te bid vir Kannaland.
"Die Here het dit op my hart gelê dat alle Christene van Ladismith, Zoar, Calitzdorp, Van Wyksdorp en omgewing op 10 Junie op een plek bymekaar moet kom om saam te bid," sê Wim Krynauw, koördineerder van It's Time Kannaland. "Mense van omliggende dorpe is ook welkom."
Pastoor Leon Terblanche van Sedgefield gaan as spreker optree en die gebedsgeleentheid lei. Terblanche is bekend vir die video, Born to Win, wat sy lewensverhaal vertel en hoe hy gekonfronteer is met die vraag 'Waar is God?'
Mense moet hulle eie stoele en verversings bring (geen alkohol). Vir verdere navrae, kontak die organiseerders by 071 449 9948.
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'