SUID-KAAP NUUS - Een van die sewe debuutdramas by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat plaasvind vanaf 8 tot 15 April in Oudtshoorn, sluit in Die reuk van Appels, 'n verwerking van Mark Behr se opspraakwekkende roman, onder regie van Lara Bye en met Gideon Lombard in die hoofrol.
Die lewe is snaaks, mooi, kosbaar, onverstaanbaar en vreeslik. Dit is die somer van 1973. Apartheid floreer, Eddie Barlow se krieketspan is besig om die Engelse op Nuweland op te dons, die Amerikaners begin noustrop trek teen die kommuniste in Viëtnam en in die Kaap is die elfjarige Marnus besig om te leer wat menswees en manwees beteken.
'n Skokkende ontdekking breek deur die oppervlak van die alledaagse om alles onherroeplik te verander. Vanaf daardie beslissende oomblik sal die reuk van appels bly kleef aan alles wat Marnus raak. Gebaseer op Mark Behr se veelbekroonde roman wat beskryf word as 'n baken in die Afrikaanse letterkunde.
Dit is 'n 90 minuut Afrikaanse drama en geen kinders onder 12 word toegelaat. Kaartjies is R110 en die opvoering vind plaas in die Griessel-saal.
Vir meer inligting/besprekings besoek die KKNK webwerf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'