GRAAFF-REINET NUUS - Die woelwaters by Cradock Voorbereidingskool het die afgelope week behoorlik gewikkel.
Die afgelope kwartaal het hulle ywerig fondse ingesamel vir Huis Joubert, die skool se koshuis.
Kaartjies is verkoop en leerders wat die meeste kaartjies verkoop het, is op 4 November beloon vir hulle harde werk.
Zeiss Jordaan, Luan Meyburg en Katelyn Thompson het die heel meeste kaartjies verkoop en hulle het elkeen 'n splinternuwe selfoon en 'n helikopterrit oor Cradock, geborg deur Dawie de Klerk, gewen.
Elke klas het hul beste kaartjieverkopers beloon en die ondersteuners wat wenkaartjies gekoop het, het ook hul pryse ontvang.
Relay Ambulansdienste van Nxuba het op 7 Novemver hul Kaptein Relay na die skool gestuur en die kleintjies geleer hoe noodsaaklik ambulansdienste is.
Die gr 3's het ook op 7 November 'n uitstappie gehad en die opgewondenheid was groot om met Marlow Hoër Landbouskool se groot bus na Prospect Dairy by Freddie van Zyl te ry en die Fairwold Museum by Elize en Acton van Aardt se plaas te besoek.
Op Vrydag 8 November het die skool hul hekke oopgegooi met hulle opedag toe maantuie en maanreisigers die nuwe leerders vir 2025 verwelkom het!
Die woelwaters kon tussen die sterre en hemelliggame kuier en elkeen sien met sterre in hul oë uit na hulle eerste skooljaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’