GRAAFF-REINET NUUS - Fanie Theron Preprimêr in Cradock het onlangs hulle weergawe van Die Drie Varkies aangebied, en wat 'n aanbieding was dit nie.
Elkeen van die 156 leerders het 'n rol gehad, en 'n spesiale uitrusting en grimering om daarmee saam te gaan. Volle gesinne het die AB du Toit-saal volgepak vir 'n varkiefees soos nog nooit tevore.
Fanie Theron se drie varkies moes hulle eie huisies gaan bou en hulle het besluit om bietjie reg oor die land te gaan toer om hulle huise te bou ... van die plaas, na die see en toe in die bos," vertel Petro van der Merwe van die skool. Sy was betrokke by reëlings rondom die vertoning.
"Die leerders was so opgewonde om aan mammas en pappas te wys hoe oulik hulle kan dans en sing, dis jaarliks ’n hoogtepunt en ’n geleentheid wat ons leerdertjies nooit vergeet nie," deel die skoolhoof, Karin Swart mee.
Leerders staan in rye vir hul grimering voor die vertoning. Foto's: Fanie Theron Preprimêr
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’