GRAAFF-REINET NUUS - By Huis Welverdiend in Jansenville gaan dit daagliks dol en sommige weke heeltemal holderstebolder.
Op Woensdag 16 Oktober het dié tehuis besoek ontvang van die plaaslike kantoor van die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Zukiswa Maci, die maatskaplike werker wat betrokke is by Huis Welverdiend se handel en wandel, het die regte van ouer persone uitgelig, veral ook omdat - Oktober die maand vir ouer persone is.
"Dit is altyd lekker om die departement te ontvang, want hulle het 'n positiewe gesindheid teenoor ons inwoners," vertel Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend.
Ds Willie Smith het ook onlangs na Graaff-Reinet gereis, waar hy Huis Welverdiend verteenwoordig het by 'n geleentheid waar die regte van die ouer persoon bespreek is. Hy was saam met meer as 300 ander afgevaardigdes.
Volgens hom was dit 'n baie interessante aanbieding. "Daar is baie positiewe veranderinge wat in dié wet aangebring gaan word," deel hy mee.
Huis Welverdiend se maandelikse trekking vir inwoner en personeellid van die maand het weer op Vrydag 18 Oktober plaasgevind!
"Almal was baie nuuskierig en opgewonde om te hoor wie die "spesiale" persone is. Die motiverings op die stembriefies was besonders en dit het ons weereens laat besef dat daar nie eintlik net een wenner in elke kategorie kan wees nie."
Piet Mulder het met die louere as die werknemer van die maand weggestap, nadat daar reeds vanaf 19 September 'n behoorlike ‘stemplakkaat’ aangebring is om sy verkiesing te ondersteun.
Die woelige Wendy Pretorius is as inwoner van die maand aangewys, want sy woel en wikkel oral.
Tyd vir ontspanning is daar ook, en daar is ook op 18 Oktober Proteas gevou uit ou boeke, met 'n heerlike nadraai.
"Die gevouery ontaard elke keer in 'n lekker lag-uit-jou-maag sessie toe Charmaine Smith na haar klaar gevoude blare van haar protea soek, het Tokkie Nel dit gevat en het Mariana Visser dit reeds geplak, ten spyte van die feit dat dit te klein is vir Tokkie se protea; dit het groot konsternasie veroorsaak.
Joligheid terwyl proteas gevou word. Agter is Gert Ferreira en Deon Erasmus. Voor is Wendy Pretorius en Charmaine Smith.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’