GRAAFF-REINET NUUS — Die Camdeboo Hengelklub het die pas afgelope naweek hul derde jaarlikse Karoo Carp Classic-hengelkompetisie tesame met die Karoo-lus Fees aangebied op Saterdag, 1 Oktober.
Die deelnemers het gesukkel maar kon steeds daarin slaag om ‘n paar mooi karpe en barbers uit die water te trek.
Dié jaar is die eerste jaar wat 'n dame - Adelè Conradie van Port Elizabeth - die mans ore aangesit het deur die wen-karp van 3.165kg in te katrol.
Kort op haar hakke, in die tweede plek, was Gerhard van Jaarsveld met ‘n karp van 2.85kg, gevolg deur Jason Prinsloo (ook van Port Elizabeth) in die derde plek met ‘n karp van 2.81kg, HP Fourie - afkomstig van Kareedauw - in die vierde plek met 'n karp van 2.79kg en Riaan Nell van Uitenhage in die vyfde plek met 'n karp van 2.79kg.
Conradie het ‘n kontantprys van R2 500 - geborg deur Hennie van Rensburg van Seamna's Workshop - losgeslaan met haar goeie vangs.
In die Barber-afdeling het Tobie Verwey van Uitenhage die eerste plek ingeneem met ‘n vangs van 2.705kg, Barry Kurtain het met sy barber van 2.31kg die tweede plek verower en Tinus Verwey van Graaff-Reinet die derde plek met 'n barber van 2.21kg.
Die wenners van die swaarste pen het elkeen ‘n skaap gewen en hier het Arthur Langley en Riaan Nel die eerste plek gesamentlik geneem met ‘n totale pengewig van 30.99kg.
Die tweede plek het gegaan aan Johan de Wet en HP Fourie met ‘n totale gewig van 26.72kg, die derde plek aan Henry Kruger en Craig Thomson met 22.315kg, die vierde plek aan Stefan Ackerman en Wouter Meiring en die vyfde plek aan Stoom Meiring en Tobie Verwey.
Die deelnemers het elkeen hul pryse ontvang tydens die prysuitdeling die Saterdagaand om 7nm by die Karoo-lus feesterrein.
Die organiseerders beskou die dag as 'n reuse sukses en het almal hulself terdeë geniet.
• Die sukses van die dag sou egter nie behaal kon word sonder die getroue borge nie en bedank die Camdeboo Hengelklub graag vir Seaman’s Workshop, Botha’s Garage, Fourie’s vervoer, Kamdeboo Supermeat,The Bill - Jansenville, Mr Paint, Die Dipkas, Autozone, Elmarie’s Health and Skincare Clinic, Mica, Steers, Oasis, Reinet Studio, Swancraft, Pioneers, Wimpy, Spur, Würth, de Klerksdag Boerdery, Casper de Klerk Wildvangdienste, Mr Maintenance, Johan de Lange, SANParke en die Karoo-lus Fees-organiseerders.
• Diegene wat graag wil aansluit by die Camdeboo Hengelklub kan 'n e-pos stuur aan camdeboohengelklub@gmail.com om meer inligting te bekom.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'