GRAAFF-REINET NUUS — Medaljes, linte én verbeterde tye was die hoogtepunt vir vier swemmers van die Graaff-Reinet Swemklub wat in April aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Level-2 en -3 Swemkampioenskappe deelgeneem het.
Swemmers moet vir dié kampioenskappe kwalifiseer. Om vir level 2 of 3 te kwalifiseer moet swemmers kwalifiserende tye, soos voorgeskryf deur Swem Suid-Afrika, swem.
Level 3 se kwalifiserende tye is vinniger as level 2 - en om te kwallifiseer verg ure se oefentyd in die swembad.
Al vier die swemmers het hul tye verbeter en deurgedring na verskeie finale. Die klub het ook 'n paar medaljes ingepalm. Elke swemmer wat in die finaal geswem het, het ook 'n lint ontvang vir erkenning.
Level 3
Die Level 3-kampioenskappe is dié jaar in Kaapstad gehou en daar het Rianco Vermeulen, Lizandri Crewe-Brown en Llewellyn Crewe-Brown die klub verteenwoordig.
Dié drie top swemmers het Graaff-Reinet se naam behoorlik hoog gehou deur drie silwer en drie brons medaljes te verwerf.
Daar was meer as 400 deelnemers aan dié byeenkoms. Wat verblydend was, was die persoonlike beste tye wat deur al drie die swemmers opgestel is. Dit was veral die 4x100m aflos waar Llewellyn en Rianco saam geswem het wat vir geweldige opwinding gesorg het.
Ten spyte daarvan dat die span sewende op die ranglys gelê het, het dié vier mans bo verwagting goed geswem en het hulle naelskraaps in die tweede plek geëindig.
Level 2
Marlien Crewe-Brown het deelgeneem aan die Level 2-kampioenskappe te Oudtshoorn.
Sy het besonder goed geswem en het twee goue en drie brons medaljes opgeraap.
Met meer as 45 klubs wat hieraan deelgeneem het, was haar prestasies, in veral die 50m Vryslag en 50m Vlinderslag indrukwekkend.
In beide hierdie items was sy nie net die vinnigste van haar eie ouderdom nie maar ook die vinnigste meisie swemmer in die hele byeenkoms - voorwaar 'n prestasie om op trots te wees.
Al vier dié swemmers is verbonde aan Hoër Volkskool in Graaff-Reinet.
Die Graaff Reinet Swemklub se hoof-afrigter Corlé Ferreira was ook by beide kampioenskappe in haar hoedanigheid as afrigter en is baie tevrede met haar swemmers se prestasies.
"Ek was baie tevrede met die tye wat hulle aan die einde van die seisoen kon swem, mens kon sien dat die harde werk wat hulle ingesit het gedurende die seisoen behoorlik vrugte afgewerp het," se Corlé.
"Ek sien uit om weer met hierdie swemmers volgende seisoen te werk en ek verwag dat hulle groot hoogtes gaan bereik volgende jaar."
Die Graaff Reinet Swemklub is gesluit vir die winter-maande maar gaan daar wel oefeningsessies in die gimnasium vir swemmers aangebied word.
Enige belangstellendes kan gerus vir René Oosthuizen by 083 264 7824 kontak.
Marlien Crewe-Brown op die podium (middel) tydens die oorhandiging van haar goue medalje.
'Ons bring jou die nuutse Graaff-Reinet, Karoo nuus'