GRAAFF-REINET NUUS — Verlede Saterdag het die Camdeboo Hengelklub hul jaarlikse Karoo Carp Classic-kompetisie saam met die Karoo-lus Fees aangebied.
Die kompetisie is betwis langs die waters van die Nqwebadam by die Piekniekbos-ontspanningsarea.
Alhoewel die vis maar redelik skaars was het die heerlike somerweer steeds ‘n lekker visvangdag verseker.
Hennie van Rensburg het die dag se kompetisie gewen met ‘n stewige karp van 4.03kg.
Rocco Erasmus het tweede geëindig met ‘n karp van 3.465kg en Danie Campher was derde met ‘n karp van 3.38kg.
In die dames-afdeling het Jessica Verwey van Uitenhage met 'n karp van 2.43kg geseëvier.
Die junior-afdeling is gewen deur Johan Jordaan met 'n karp van 2.615kg.
Die swaarste pen was toegeken aan Gerhard van Jaarsveld en Brian van Schalkwyk met 'n totale gewig van 37.21kg.
Dan het Gerhard van Jaarsveld ook die Karoo Carp Classic-kompetisie se barber-rekord gebreek deur ‘n bielie van ‘n barber met ‘n gewig van 13.53kg uit die water te trek.
Die Camdeboo Hengelklub bedank graag al die hengelaars wat deelgeneem het aan dié kompetisie sowel as die borge vir hul bydrae tot die dag se sukses.
Johan Jordaan, Brian van Schalkwyk, Gerhard van Jaarsveld, Hennie van Rensburg, Rocco Erasmus, Athur Langley, Jessica Verwey en Danie Campher tydens die Camdeboo Hengelklub se onlangse Karoo Carp Classic-kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'