GRAAFF-REINET TENNISNUUS - Die jaarlikse Jocelyn Marais-tennistoernooi vir laerskole het onlangs in Graaff-Reinet plaasgevind.
Dit is die sewende jaar wat dié toernooi plaaslik aangebied is en gaan hierdie gesogte toernooi jaarliks van krag tot krag.
Agt seunsspanne en agt meisiesspanne van so ver as Stellenbosch, Port-Elizabeth, Bloemfontein en Humansdorp is genooi om saam met plaaslike skole soos Union High en Laer Volkskool aan dié strawwe kompetisie deel te neem en eg-plattelandse gasvryheid te beleef.
Al die deelnemende tennisspelers het oor die loop van die naweek teen gedugte teenstanders te staan gekom en het die wedstryde in 'n baie goeie gees plaasgevind.
Die seëvierende seunsspan was dié van Eikestad Laerskool van Stellenbosch, terwyl die meisiesafdeling deur Collegiate van Port-Elizabeth gewen is.
Jean-luc Joubert van Eikestad Laerskool was sonder twyfel as die toernooi se beste individuele seunsspeler aangewys, terwyl Leila Nel van Sunridge Laerskool in Port Elizabeth as die beste meisiesspeler erken is.
Elke wenspan is met 'n groot kontantprys, onder andere, beloon en het die individuele wenners ook groot pryse opgeraap.
Dié toernooi se grootste eer, die Jocelyn Marais-trofee, is aan Frederich Brisley van Laerskool Willem Postma in Bloemfontein oorhandig.
Ilze Stapelberg van Laerskool Stulting in Humansdorp is as die afrigter van die toernooi aangewys.
Tydens die toernooi is elke speler en afrigter beloon vir twee dae se harde werk met 'n geskenksakkie wat, onder andere, 'n t-hemp, hoed, waterbottel, skokbreker ensomeer, bevat het.
Organiseerder Inalise du Piesanie bedank graag die borge wat die toernooi verwesenlik het, hulle is Camdeboo en Spandau Spar, Montego Pet Nutrition, die Engen Riverside Convenience Centre, KFC, die Profcon-oord, Oasis Water, die Matchpoint-tennisakademie, Peter en Sue Marais en Wilson- sporttoerusting.
"Tydens hierdie toernooi het sportmanskap geseëvier, is nuwe vriendskapsbande gesmee en baie pret beleef", meen du Piesanie.
Die groep deelnemers aan die onlangse Jocelyn Marais-tennistoernooi vir laerskole in Graaff-Reinet.
Die seëvierende seunsspan was dié van Eikestad Laerskool van Stellenbosch.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'