GRAAFF-REINET TENNISNUUS - Die Matchpoint Tennisakademie het oor die laaste naweek van Augustus 'n O.10-tennistoernooi in Graaff-Reinet aangebied.
Dit was die eerste keer wat dié toernooi aangebied is, en hoop die organiseerders om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
Twintig spanne, van onderskeidelik Kaapstad, Stellenbosch, Cradock, Graaff-Reinet, Middelburg en Somerset-Oos, het hieraan deelgeneem.
Al die deelnemende spelers, selfs dié van Graaff-Reinet, het oor die naweek by die Profcon-oord gebly, wat vir 'n sterk gevoel van samesyn gesorg het.
In die kompetisie onder die seunsspelers in die A-liga, het die span van die Pinelands Akademie koning gekraai.
Laer Volkskool se A-span het kort op hul hakke gevolg in die tweede plek.
Die Karoo-snare en UPS het die derde en vierde plekke ingeneem (as gevolg van swak lig, moes die spel egter gestop word en kon die spesifieke plekke nie bevestig word nie).
Laerskool Stellenbosch het vyfde geëindig en Laer Volkskool se B-span sesde, terwyl die naderende donker weereens tot gevolg gehad het dat die sewende en agste plek se beslissing tussen Cradock Voorbereiding se B-span en Cradock Laer nie kon plaasvind nie.
Cradock Voorbereiding se A-span het negende geëindig.
Tydens die meisies se spel, het Cradock Laer eerste geëindig in die A-liga, gevolg deur die Matchpoint-span in die tweede plek, 'n uitnodigingspan in die derde plek, Stellenbosch Laer in die vierde plek en Cradock Voorbereiding in die vyfde plek.
In die B-liga het Karoo Homeschooling gewen, gevolg deur die Laer Volkskool C-span in die tweede plek, di eMatchpoint-span in die derde plek, Topspinners in die vierde plek, die Montego-span in die vyfde plek en die Laer Volkskool-dogters in die sesde plek.
Die uitspeel vir die finale posisies die Saterdagmiddag het vir strawwe kompetisie gesorg met die eerste en tweede plek in die seuns se A-liga wat onder ligte klaargespeel moes word.
Die organiseerders van die toernooi bedank graag al die borge en deelnemers wat die toernooi moontlik gemaak het. 'n Spesiale woord van waardering word gerig aan KFC, Oasis, die Matchpoint Tennisakademie, die Profcon-oord en Steers.
n Oor die naweek van 5 en 6 Oktober - soos oudergewoonte oor die eerste naweek in Oktober - bied die Matchpoint Tennisakademie hul vierde jaarlikse Matchpoint Classic-tennistoernooi in Graaff-Reinet aan.
Die ouderdomsgroepe waarin spelers kan deelneem is O.8, O.10, O.14 en Ope - seuns en dogters ding apart mee, 'n speler kan dus bo 18 wees en steeds inskryf.
Spelers van Graaff-Reinet, Port-Elizabeth, Cradock, Middelburg, Somerset-Oos, Bedfort en George is reeds ingeskryf.
Daar kan net 'n beperkte aantal spelers hieraan deelneem - skryf dus gou in om teleurstelling te voorkom.
Baie pryse, onder meer 'n nuwe Wilson raket, is op die spel
Kontak Hannelie Pienaar by 072 686 1804 indien jy graag meer hieromtrent wil uitvind.
Die Matchpoint Tennisakademie se O.10 tennistoernooi in Graaff-Reinet is deur al die deelnemers terdeë geniet.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'