GRAAFF-REINET NUUS - Dr. Sherylle Calder, sportwetenskaplike wat spesialiseer in visuele vaardighede, het verlede week MatchPoint-tennisakademie in Graaff-Reinet besoek.
Hannelie Pienaar van MatchPoint sê leerders van Hoër Volkskool asook die gr. 7-leerders van Laer Volkskool, hulle onderwysers en ook lede van die publiek het die geleentheid bygewoon.
In die gesprek wat sy met die leerders gehad het, het sy met hulle oor 'n suksesvolle toekoms gepraat.
Sy het vir hulle gesê suksesvolle mense bepaal nie hulle toekoms nie, maar hulle bepaal hulle gewoontes en hulle gewoontes bepaal hulle toekoms.
Tennisspelers besig met oogoefeninge.
Pienaar sê Calder het ook met die kinders gepraat oor selfvertroue, selfdissipline en konsekwentheid.
"Sy het mooi verduidelik hoe belangrik dit is om doelwitte vir jouself te stel. Kampioene het nie elke dag 'n goeie dag nie, hulle wen ook nie altyd nie en is nie altyd op hulle beste nie, maar kampioene gee nooit op nie, hulle kla nooit nie en gee hulle beste tot die einde."
Pienaar sê wat by haar gebly het van die gesprek was Calder se beskrywing van kampioene.
"Sy het so mooi gesê dat kampioene juis kampioene is omdat hulle sterk is, maar nie ongeskik nie; ordentlik is, maar nie swak nie; groot is, maar nie boelie nie; nederig is, maar nie selfbejammerend nie; vol selfvertroue, maar nie arrogant nie."
Die Vrydagmiddag het sy met MatchPoint se afrigters en spelers gewerk deur 'n EyeGym-baansessie.
"Sy het elke afrigter en speler weer herinner dat die klein dingetjies in die lewe, asook op die tennisbaan baie belangrik is.
"Iets klein soos oog op die bal, is eintlik die hoofdoel van sport en in die alledaagse lewe, die oog op die eindstreep."
Pienaar sê elkeen het verseker met iets weggestap vir die dag.
"Hetsy minder 'screen time', of meer oog op die bal, of al was dit net om nederig en doelgerig te wees, behoort dit elkeen se sportloopbaan te verander. Dit was 'n geweldige suksesvolle besoek," het Pienaar gesê.
Die afrigters en tennisspelers van MatchPoint saam met dr. Sherryl Calder.
Foto's: Neco Bokwe
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'