SUID-KAAP NUUS - Debra Hyde van die Knysna-tennisklub is tydens die algemene jaarvergadering van die Eden Tennisvereniging onbestrede tot president vir 2016/17 herkies.
Die res van die bestuur is Garnett Wicomb (vise-president), Cathy Gerber (sekretaris/kassier), Danie Steyl, Louis du Preez, Calvin Lottering, Albert Warren (skole), Lizelle Fourie (junior tennis), Daan Spengler (afrigters), Tiaan Theron (Rietbron verteenwoordiger), Gerhard Johnston (Uniondale verteenwoordiger), Lientjie Roos (Riversdal verteenwoordiger) en Ebrahim America (Pacaltsdorp verteenwoordiger).
Elf klubs is by die unie geaffilieer.
Kommer is tydens die vergadering uitgespreek oor die gebrek aan belangstelling van spelers om aan ligakompetisies deel te neem. 'n Komitee is gekies om aandag aan die kwessie te gee en te kyk na alternatiewe opsies soos spesiale tennisdae, soortgelyk aan die Franklin Skild-kompetisie wat jaarliks aangebied word en waaraan meer as 90 spelers vanjaar deelgeneem het.
In haar verslag oor senior (veterane) tennis het Hyde gesê dat dit floreer met ‘n ledetal van 116 spelers.
Die gewilde 190’s spankompetisie wat oor vyf Saterdae gespeel word is volgens haar die vlagskip aktiwiteit van die vereniging. Altesaam 28 spanne (112 spelers) het vanjaar deelgeneem.
Sy het tersefdertyd haar gelukwensinge oorgedra aan ‘n voormalige president van die verening, Ronnie van’t Hof, wat verkies is tot president van die Suid-Afrikaanse senior tennisverening.
Sy het ook lof toegeswaai aan die Eden spelers wat die afgelope jaar in Suid-Afrika in wêreldtoernooie verteenwoordig was. Hulle is Christine van Coller, Debra Hyde, HG Scheün, Ronnie van't Hof en Stevie Keuler.
Hyde het die Mosselbaai-, Hartenbos-, Wesbank- en George-tennisklubs bedank vir die beskikbaarstelling van hul geriewe vir interprovinsiale- ,provinsiale- en junior toernooie asook die 190's spankompetisie.
Volgens Lizelle Fourie, wat in beheer is van junior tennis, is dit in die Eden-distrik baie gesond. Volgens haar is daar groot belangstelling onder leerders en is talle toernooie die afgelope jaar suksesvol aangebied.
So is vier mini toernooie aangebied asook die eerste junior interprovinsiale toernooi waaraan 400 kinders deelgeneem het.
Van die streek se spelers het ook goed gevaar in die SA Skole Tennistoernooi.
"Tennis is aan die groei in Eden, Die kinders besef hoe lekker dit is om tennis te pluk en ons sal die vrugte pluk," het Fourie gesê.
Daan Spengler, voorsitter van die afrigtersvereniging, het in sy verslag gemeld dat daar tans 24 geregistreerde afrigters in die streek is asook 'n groot aantal ongeregistreerde afrigters, bekend as pirate afrigters.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'