GEORGE NUUS - Eduard Steyls en Chané Gricius is verlede Saterdag by die George-tennisklub se jaarlikse klubkampioenskappe as die enkelspelkampioene gekroon.
Chané het haar 12-jarige teenstander, Naledi Manyube, in die A-afdeling vir vroue in 'n titaniese eindstryd met 7-5 en 7-5 geklop.
In die mans A-groep het Eduard met 7-6 en 6-3 oor Charl Opperman geseëvier.
Bykans 100 toeskouers het opgedaag en hulle is beslis nie teleurgestel nie.
Albei eindstryde het tennis van hoogstaande gehalte opgelewer en het telkens luide applous uitgelok.
Al vier spelers het met hul sportmangees beïndruk en 'n paar kwinkslae in die manseindstryd het ekstra kleur aan die dag verleen.
Dat 80 braaipakke ná afloop van die eindstryd verkoop is, spreek boekdele van die geesdrif en entoesiasme waarmee die bestuurskomitee die kampioenskappe aangepak het.
En niemand verdien 'n groter pluimpie as die hardwerkende wedstrydsekretaris, Heinrich Heuer, nie. Hy het behoorlik gewoel agter die skerms en 'n rekordgetal spelers omgehaal om vanjaar deel te neem.
En 'n ewe verdienstelike vertoning is op die "19de puntjie" deur die klub se visevoorstitter, Jan Cornbrinck gelewer.
ARTIKEL & FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete, Graaff-Reinet nuus'