SUID-KAAP NUUS - Twee spanne van die Eden Senior-tennisvereniging wat verlede week op Mosselbaai aan die TSA (Tennis Suid-Afrika) Super Seniors interprovinsiale tennistoernooi deelgeneem het, het as wenners uit die stryd getree en een as naaswenner.
Die 65+ A-span van Ronnie van't Hof (kaptein), Daan Spengler, Pikkie Malherbe en Hanlé Cronje en die 65+ B-span van Maryna Olivier (kaptein), Jaap Rabie, Neil Swart en June Smith het in hul onderskeie afdelings koning gekraai terwyl die 75+ A-span van Garnett Wicomb (kaptein), Callie Matthee, Colleen Noble en Elaenor Booth silwer gewen het.
Die Eden 75+ A-span het al sy wedstryde in die rondomtaliekompetisie gewen maar Vrydag in 'n uitspeelwedstryd om die eerste plek teen die WP verloor na 'n oorwinning op die eerste dag.
KwaZulu-Natal het die 70+ A afdeling gewen en Noord-Wes Provinsie die 70+ B-afdeling.
Altesaam 130 spelers van nege provinsies in die oudersdomsgroep 65+ to 75+ het aan die weeklange toernooi op die bane van die Mosselbaai-, Hartenbos- en Klein-Brakrivier Tennisklubs meegeding waartydens die kompetisie soos altyd weer taai was.
Gauteng-Noord het die meeste spanne, altesaam nege, ingeskryf en Eden die tweede meeste, nl ses. Ander provinsies wat deelgeneem het is Boland, Westelike Provinsie, Kwa-Zulu Natal, Oostelike Provinsie, Gauteng Sentraal, Noord-Wes Provinsie en Vrystaat.
Spesiale erkenning is tydens Vrydagaand se afsluitingsfunksie in die Riviera Hotel op Hartenbos aan die twee oudste spelers Callie Matthee van Eden en Ralph Burls van KwaZulu-Natal, albei 80, gegee sowel as aan Ricky Buwalda, ook van KwaZulu-Natal, wat al op Wimbledon gespeel het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Graaff-Reinet, Hessequa nuus'