Gallery Video
GRAAFF-REINET SPORTNUUS EN VIDEO - Spandau Sekondêr se skoolhoof, Eugene Mackelina, spog vir die eerste keer sedert 2012 met die Robert Hector-wisseltrofee as die wenskool in die jaarlikse Spandau Sekondêr en Asherville Sekondêr-interskole.
Die twee skole het van Woensdag, 31 Julie tot Saterdag, 3 Augustus in 16 wedstryde kragte gemeet.
Spandau het die eerste rugby-wedstryd 12 - 5 teen Asherville verloor, maar wel 10 van die 16 verskillende wedstryde gewen.
Vir elke wedstryd gewen, is twee punte aan die wenskool toegeken. Spandau het dus interskole met 20 -12 gewen.
Spandau het Woensdag, 31 Julie die regte skuiwe in die skoolsaal gemaak en die skaakspel met 53 - 19 gewen, om Spandau met 2 - 0 te laat voorloop op die telbord.
Met die skaakborde weggepak, het die spel na die vlugbalbane geskuif, waar Asherville se meisies Spandau met twee stelle teen nul gewen het.
Spandau Sekondêr se skoolhoof, Eugene Mackelina, hou die Robert Hector-wisseltrofee omhoog. By hom staan Enver Botha (Goldrush), Robert Hector, Brenda Hector en van Spandau se eerste rugbyspan spelers.
Spandau het terugbaklei en hul seuns-vlugbalspan het 2-0 gewen. Spandau se veterane-vlugbalspelers het hul alma mater se naam hoog gehou en Asherville met drie stelle teenoor nul geklop.
Donderdag het die sportmanne gerus, maar ondersteuners-vure het hoog gebrand.
Asherville (rooi) het die hokkie 4-1 verloor.
Vrydag en Saterdag het Spandau se o.14, o.15 en o.16-netbal en rugbyspanne geseëvier.
Hierdie tellings was: netbal (Spandau / Asherville) o.14A: 12 - 10; o.15A: 12 - 9 en o.16A:13 - 11. Rugby (Spandau / Asherville) o.14A: 52 - 0; o.15A: 23 - 14 en o.16A: 17 - 13.
Die gasheer skool het Asherville ook op die hokkieveld met 4 - 1 ore aangesit.
Asherville se eerste-sokkerspan was met 1 - 0 die wenners.
Op die netbalbaan het Asherville se tweede span vlugvoetig met 22 - 18 gewen.
Hul eerste span het die dag se netbal afgerond met 'n 30 -18 oorwinning.
Later was die pawiljoene vol in afwagting vir die rugby.
Asherville se tweede span het met 15 - 0 gewen.
Asherville skiet vir 'n doel. Foto's: Christo Vermaak
Toe die eerste spanne op die veld draf het die trompoppies gedans en die leerders het uit volle bors geskreeu.
Dit was Asherville wat eerste oor die doellyn geduik het.
Kort daarna het Spandau gaan druk, maar in die doodsnikke van die wedstryd het Asherville die wendrie gedruk, om 'n trofee te ontvang vir hul 12 - 5 oorwinning.
Kyk videos hieronder
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'