GRAAFF-REINET NUUS - Die Living Ball Ministries het onlangs besoek in Graaff-Reinet afgelê om sportballe aan ses skole te oorhandig. Vier primêre skole, Ryneveld, Lingcom, Kroonvale, en Graaff-Reinet, het balle ontvang sowel as twee sekondêre skole, Spandau en Asherville.
Living Ball Ministries is 'n Suid-Afrikaanse sportbediening wat sporttoerusting met Christelike boodskappe daarop gebruik om die Woord te verkondig.
Tydens die oorhandiging by Spandau het Franna Cillie van Living Ball Ministries verduidelik dat hulle graag vir mense hoop wil gee.
"Daar is baie duisternis daar buite. Ek self was vir 30 jaar in die duister, maar toe kom iemand en vertel my van Jesus. Dit het my vrygemaak en in die lig gebring sodat ek lig vir ander kan wees," vertel Cillie.
Cillie het leerders aangemoedig om die boodskappe te lees wanneer hulle sport speel en die hoop wat hulle daaruit kry met ander te deel. "Jy gaan nie geld daarvoor kry nie en jy gaan ook nie erkenning daarvoor kry nie, maar jy gaan 'n verskil in mense se lewens maak. Jy gaan vir hulle hoop gee en die hoop is Jesus Christus."
Cillie het afgesluit deur leerders te verseker dat hulle kosbaar is. Cillie en sy vrou Charmaigne is sedert 2001 deel van Living Ball Ministries.
Lingcom se skoolhoof Basil Jacobs (links) en Franna Cillie van Living Ball Ministries.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'