ABERDEEN SPORTNUUS - Vyf plaaslike 7's-rugby-spanne het Saterdag 15 Oktober meegeding in die Aberdeen Desmond Coetzee 7's-feestoernooi. Dit was die eerste in sy soort vir Aberdeen en het behoorlik aandag getrek.
Die vyf spanne, Black Super Sayians, White Magicians, Groen Mambas, Blue Whales en Red Fire Steppers, het hulle kreatiewe name gestand gedoen en heelmiddag vir blitsige, opwindende rugby gesorg.
Ná strawwe kompetisie het die Groen Mambas uiteindelik as algehele wenners uit die stryd getree. Maar, soos die Groen Mambas en vele toeskouers sê oor die dag, die eintlike wenners is elkeen wat opgedaag het, spelers en ondersteuners.
In die openingsrede het Aberdeen-rugbyklub se voorsitter, Nico Vywers, hulde gebring aan wyle Desmond Coetzee. Coetzee het in sy leeftyd diep spore getrap in Aberdeen en in rugby.
Hy het gedien as uitvoerende lid van die OP-rugbyunie, voorsitter van die Karoo Rugby-subunie, uitvoerende lid en hoofafrigter van die Aberdeen-rugbyklub en ook vir Saloma Booysen afgerig. Sy is een van die eerste vrouerugbyspelers wat as Springbok in die Wêreldbekertoernooi in 2005 in Kanada deelgeneem het.
Maar Coetzee is nie net bekend vir sy toewyding aan rugby nie, hy was ook burgemeester van Aberdeen en het gedien as voorsitter van die Camdeboo-substruktuur van die ANC.
Dit is egter veral sy liefde vir en toewyding aan Aberdeen se gemeenskap wat van hom 'n plaaslike ikoon maak. Sy dogter, Johnise Coetzee, het Saterdag se feestoernooi bygewoon en trots gepryk in 'n T-hemp met 'n foto van haar pa. "Dis my voorreg om my pa hier te verteenwoordig," het Johnise gesê.
Vywers het gesê die toernooi bring Aberdeners bymekaar. "Dit is 'n eerste vir Aberdeen-rugbyklub. Ons bedank elke speler wat hand opgesteek het om hierdie dag moontlik te maak. En vir die gemeenskap sê ons dankie dat julle gekom het."
Die pawiljoen was gepak en om die veld het motors bankvas gestaan, kompleet asof húlle ook koud gekry het in Saterdag se rare winterweer.
Rondom voertuie is stoele, tafels en braaiers uitgepak en behoorlik fees gevier. Spanne is luidkeels verwelkom met 'n erewag voor elke wedstryd. Tydens wedstryde is spelers deurlopend toegejuig en skitterspel beloon met luide geskal van vuvuzelas en blasende toeters. Tussen wedstryde het die jongspan hulle eie rugbydrome op die veld uitgeleef en heerlik gespeel.
Spelers het bepaald hulle harte op die klipharde rugbyveld uitgespeel. Die eerste wedstryd het kort ná 13:00 begin met die laaste wedstryd knap voor 19:00.
Dit was hardlooprugby op sy beste met weinig skoppe en selfs minder skrums. Die harde, stowwerige veld, met net hier en daar gras het geen speler gestop om balbeheerders summier in hulle spore te stuit nie. Van die duikslae was, soos die talle drieë, skouspelagtig.
Spelers was nie bang om hard met die aarde kennis te maak nie.
Aberdeen-rugbyklub se voorsitter, Nico Vywers
Johnise Coetzee het 'n T-hemp met haar pa se foto gedra. Foto`s: Alex Lombard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'