Gallery
ABERDEEN SPORTNUUS - Wanneer Aberdeen se A-rugbyspan op hulle tuisveld speel is dit skouspelagtig - ongeag wie die teenstanders is.
Saterdag 18 Maart was geen uitsondering nie. In 'n vriendskaplike wedstryd het Aberdeen A oor Sentraal A geseëvier met 'n eindtelling van 24 - 17.
FOTOGALERY: Aberdeen se A-rugbyspan
Beide spanne het die eerste helfte goed begin, maar Aberdeen het uit die staanspoor die skroewe aangedraai en kort voor rustyd vir Sentraal met die eerste blitsdrie verras.
Dit was asof die vinnige, onverwagse deurbraak Sentraal se verdediging ontsenu het.
Sentraal se hanteringsfoute het nie die skeidsregter se fluitjie ontglip nie en ook nie die skopskoene aan Aberdeen se kant nie.
Aberdeen se verdediging was egter nie hulle sterk punt nie. Alhoewel van die toeskouers luidkeels laat hoor het dat "die skeidsregter se fluitjie net eenkant toe blaas" het Aberdeen self 'n paar strafskoppe afgestaan as gevolg van hanteringsfoute.
Sentraal se skopvoete was egter nie so suksesvol soos Aberdeen s'n nie.
Dit het tot goed in die laaste deel van die eerste helfte geneem voordat Sentraal agter die doellyn kon gaan kuier.
Maar toe hulle dit eers geproe het, het nog 'n drie sommer gou gevolg.
Beide spanne se manne was duidelik gretig om die bal te laat loop vir lekker vinnige, hardlooprugby.
Skoppe is beperk tot verdediging. Alhoewel te veel hanteringsfoute die vloei van spel dikwels onderbreek het, was daar onder luide gejuig volop aksie - genoeg om die toeskouers te vermaak vir die duur van die wedstryd.
Regtig, ref – ek is op my knieë, vergewe tog? Foto’s: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’