RUGBY NUUS - Italië hier kom ons. Vier seuns van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), Darnell Delport, Keaton Olivier, Cayden Williams en Brandon Jacobs het Maandag 4 Desember na Italië vertrek om aan 'n internasionale rugbytoernooi vir o. 14 en o. 15-spanne deel te neem.
Hulle is almal 14 jaar oud.
Hulle sal vir die Titans uitdraf in die toernooi wat gister, Woensdag 6 Desember, begin het en duur tot 13 Desember. Tydens die geleentheid sal hulle nie net rugby speel nie, maar ook besienswaardighede besoek soos die Ferrari-museum.
Hulle speel almal vir die o. 14-spanne van Kwaggas en is gekies op grond van hul vertonings by die Outeniqua-rugbytoernooi wat vroeër vanjaar gehou is.
In die aanloop tot hul vertrek was hulle druk besig met die laaste voorbereidings, maar het tog tyd ingeruim om met George Herald te praat.
Hulle het almal 'n passie vir rugby en speel al van kleins af. Hulle sal graag eendag vir die Springbokke wil speel. Die viertal was baie opgewonde om in Italië te gaan speel - al is dit nou winter daar.
Keaton speel haker en stut. Hy kom oorspronklik van Plettenbergbaai. Al is hy 'n voorspeler, is hy ook 'n kranige skopper. Op tweejarige ouderdom het hy al begin bal skop en soms sommer die bal oor die kraglyne geskop.
Volgens hom is dit nie moeilik om pale toe te skop nie. Hy oefen gewoonlik een keer per week en het al 'n paar keer die wenpunte vir sy span aangeteken.
Cayden draf uit as buitesenter en kom oorspronklik van Groot-Brakrivier. Sou dinge so uitwerk, sal hy later van rugby 'n loopbaan wil maak. Hy is nie skaam om te sê hy steun die All Blacks nie. Sou hy eendag wel vir die Springbokke gekies word, het hy in ligte trant bygevoeg dat hy steeds vir die All Blacks sal skreeu.
Dis die eerste keer dat hy oorsee gaan en hy sien baie uit na die besoek.
Brandon kom van Sedgefield en speel agsteman en flank. Hy hou van sport. As die geleentheid hom voordoen sal hy eendag ook beroepsrugby wil speel.
Darnell is van George en speel heelagter. Hy sal ook later van rugby 'n loopbaan wil maak. Volgens hom is die heelagter 'n belangrike posisie in die span en hy verkies om die no. 15-trui te dra. Rugby is 'n fisiese sport en hy is glad nie bang nie.
Baie geluk aan die vierttal!
Die vier seuns van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), Keaton Olivier, Cayden Williams, Darnell Delport en Brandon Jacobs wat aan die rugbytoernooi in Italië gaan deelneem. Hier is hulle in George voor hul vertrek. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’