ABERDEEN NUUS - Op 'n ongewoon koel, bewolkte Saterdag 28 Januarie het Emmanuel Joy, die man wat verlede jaar die Desmond Coetzee-sewestoernooi aangebied het, en Marshall Kombella, hul eerste rugbykliniek vir jong rugbyspelers in Aberdeen gehou.
Vier tienerseuns tussen 14 en 17 jaar oud en ses laerskoolseuns het opgedaag.
Die kliniek is 10:30 deur Joy geopen met 'n bondige verduideliking: "Ons gaan vandag vasstel hoe julle basiese balvaardighede is; hoe gemaklik, vinnig en vloeiend julle beweeg; en hoe gefokus julle is. Rugby is 'n gevaarlike kontaksport en 'n mens kan baie maklik lelik seerkry as jy nie weet wat jy doen nie. Julle moet geduld hê en eers die basics regkry, manne. Fokus vandag op julle koördinasie."
Aanvanklik het beide Kombella en Joy net hoë balle geskop wat die spelers moes vang. Met instruksies soos "fokus jou oë op die bal", "spring een been opgetrek wanneer jy wil vang" en "trek die bal in jou lyf in met jou arms", was dit soos om 'n provinsiale rugbyspan se kliniek gade te slaan.
Na die opwarming het Joy en Kombella die spelers aan 'n kort kronkelroete voorgestel. Spelers moes die roete hardloop terwyl hulle balle vang wat na hulle gegooi word en dan die balle al hardlopend neersit. Verskeie ander doelgerigte oefeninge het gevolg.
Die sportmangees onder die tien spelers het beïndruk en talle van hulle het rou talent getoon. Telkens wanneer 'n speler 'n foutlose ronde voltooi het, is hy gelukgewens met spontane applous.
Die 28-jarige Joy het verlede jaar die Desmond Coetzee-sewestoernooi gereël en op 15 Oktober aangebied.
Toe reeds het hy onderneem om vanjaar 'n rugbykliniek vir voornemende spelers te hou.
"Hier is baie talent, maar geen tot bitter min geleentheid. Die seuns wil speel, maar ontvang nie bemoediging en ondersteuning nie. Niemand leer hulle nie," het hy in Oktober gesê.
Joy beoog om die volgende kliniek oor drie weke aan te bied. Sy tyd is uiters beperk, want hy werk voltyds wat elke tweede Saterdag insluit, en hy is ook 'n betrokke gesinsman. Hy is 'n kranige sportman en speel self ook rugby, wat beteken hy moet iewers tyd vind om te oefen. Nietemin streef hy die plaaslike rugby-ikoon, wyle Desmond Coetzee, se voorbeeld na en wil hy vir ander rugbyliefhebbers geleenthede bied soos wat Coetzee gedoen het.
Vloeiend sonder om spoed te breek, plaas Enrico Cedras ‘n bal perfek.
Bal in die hande systap Endriano Cedra swierig direk nadat hy die bal gevang het. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'