ABERDEEN RUGBYNUUS - Aberdeen-rugbyklub het hulle eerste wedstryde vir die jaar Saterdag 11 Maart in Aberdeen gespeel.
Die A- en B-spanne van Willowmore en Aberdeen het in vriendskaplike wedstryde kragte gemeet en die spelers het behoorlik uitgehaal en gewys.
Veelsydige rugby, van vele lynstane tot goeie skrumwerk aan beide kante, skoppe afgelos met vinnige hardlooprugby, was aan die orde van die dag.
Ten spyte van 'n goeie reënseisoen was die veld net droog genoeg om skouspelagtige stofwolke te verleen aan elke plettervat en losgemaal.
Aberdeen se A-span het binne die eerste tien minute begin aanval en gaan druk. Willowmore het nie op hulle laat wag nie en self geantwoord met 'n drie. Beide spanne het verdediging afgewissel met skoppe en dapper hardlooprugby.
Willowmore het aanvanklik skitterend verdedig, maar later in die eerste helfte was dit egter asof hulle verdediging gate begin inval het. Moontlik was Aberdeen se spelers net te oordonderend. Miskien was dit die voordeel van tuisveld en luidkeelse ondersteuning van toeskouers, of dalk die ongenaakbare harde veldgras-veld, of dalk was Aberdeen net die beter voorbereide span. Die tweede helfte het vir Willowmore geen beter nuus ingehou nie en uiteindelik het die eindfluitjie hulle verlos met die telbord wat die finale sê gehad het met 22 - 5 in die guns van Aberdeen.
Aberdeen se driedrukkers was Curley Kameel, Romario Saayman en Jean Claude van Wyk.
In die B-span-wedstryd het altwee spanne se verdediging opgeval. Beide het egter soms selfvertroue en afronding in aanvalsbewegings gekort. Uiteindelik het Willowmore se skopskoen die wedstryd vir hulle beklink met 'n eindtelling van 3 - 0.
Dapper, uithaler hardlooprugby.
Die A-spanne het self met skitterlynstane gespog.
Myne! Nee, myne! Die B-spanne kompeteer in die lug vir balbeheer.
Elke losgemaal het gepaard gegaan met ‘n stofwolk.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'