RUGBYNUUS - Tydens 'n rugby wedstryd in Aberdeen Saterdag 3 Junie het Uitenhage se Gardens A-span die hoofwedstryd met 15 - 13 teen Aberdeen A-span gewen.
Dit hou Gardens steeds in die tweede plek in die Groep B-kategorie van die Grand Challenge Cup.
In ongure, koue weer het die heelwat groter en sterker span van Gardens binne die eerste minute van die wedstryd saamgebondel op Aberdeen se doellyn.
Aberdeen het aanvanklik walgegooi, maar uiteindelik het Gardens eerste punte aangeteken.
Beide spanne se spelpatroon het Saterdag meer gefokus op kort, meerdere fase bewegings, eerder as uitgebreide agterlyn hardloopruby. Skoppe is beperk vanweë die sterk wind, met lynstane gedomineer deur Gardens.
In die skrums het Aberdeen se ligter voorpak verbasend goed gehou teen Gardens. Onder die konstante, luide aanmoediging van 'n skare van veral plaaslike ondersteuners wat deur geen wind of weer weggehou word van hul Saterdagrugby nie, kon Aberdeen A nie anders as om hul uiterste bes te doen nie.
Aberdeen se verdediging het Saterdag beslis die beste sover in die seisoen vertoon. Gardens, as 'n sterk span in die liga, het eintlik meer hanteringsfoute begaan as wat 'n span van hul kaliber behoort te maak op hierdie stadium van die seisoen. Alhoewel die puntetelling 'n wen vir Gardens toon, het Aberdeen goeie rede om trots op hulle vertoning te voel.
In die ander twee wedstryde tussen Gardens en Aberdeen Saterdag, het Gardens egter duidelik gewys waarom hulle een van die uitstaan-rugbyklubs is.
Aberdeen se tweede span kon geen punte aanteken nie en het hulle wedstryd met 0 - 14 teen Gardens verloor.
Die eerste reserwespan van Aberdeen het ook die onderspit gedelf teen Gardens met 12 - 28.
Rugby is 'n kontaksport wat soms lyk soos skopboks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’