RUGBY NUUS - Die SWD o.21-span, oftewel die jong Arende, loop breëbors rond nadat hulle die afgelope Saterdag, 20 Augustus, hul eerste wedstryd in SA rugby se o.21-skildreeks van vanjaar gewen het.
Die span het die wedstryd teen die Pumas, wat in Groot-Brakrivier beslis is, naelskraap met 34 - 33 gewen. Dit was 'n moeilike wedstryd. Die uitslag was tot teen die einde in gedrang en dit kon na enige kant toe gaan.
Foute is aan beide kante gemaak en die reënweer het ook 'n rol gespeel. Voeg daarby dat dit die eerste wedstryd vir beide in die reeks was.
Die reeks word op dieselfde basis as die Curriebekerreeks beslis. Daar word net een ronde wedstryde gespeel. Daar is ook 'n halfeindronde en 'n eindronde. Benewens die SWD en die Pumas speel die Griffons, OP, Griekwas en die Valke in die reeks.
Gerwyn Alexander, is die afrigter van die jong Arende. Hy het voorheen onder meer die Griekwas se o.21-span afgerig wat die reeks tussen 2007 en 2009 gewen het.
Hy het Maandag aan George Herald gesê hulle het baie geleer uit Sater-dag se wedstryd. "Dis 'n swem of sink scenario. Ons staan 'n redelike kans in die reeks. Ons het 'n ervare afrigtingspan en die hulpafrigter is Jearus Nicholas."
Die span was reeds Maandag op die oefenveld met die oog op sy wedstryd komende Saterdag teen die Valke in Brakpan.
"Ons verwag 'n moeilike wedstryd teen die Valke. Hulle was die o.20-kampioen in die Skildreeks."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'