RUGBY NUUS - Ofskoon die SWD Arende Saterdag 18 Junie teen die OP Olifante in hul wedstryd in die halfeindronde van die eerste divisie van die Curriebekerreeks vasgeval het, kyk die span se hoofafrigter, Anton Moolman, vorentoe.
Moolman het Maandag gesê daar is baie positiwiteit wat uit die groep spelers gekom het en daar is beslis talent onder die spelers en 'n spankultuur/identiteit is gevestig.
Die eindtelling was 26 - 12 in die wedstryd wat in Gqeberha gespeel is. Die rustydtelling was 15 - 7.
Volgens Moolman was die wind tydens Saterdag se wedstryd 'n groot faktor. In die eerste helfte het die Arende saam met die wind gespeel en dit nie tot hul voordeel benut nie.
In die eerste 30 minute het die Arende strafskoppe afgestaan en hulle kon nie in goeie posisies op die veld kom om die Olifante onder druk te plaas nie.
In die tweede helfte het die Arende teen die wind gespeel en karakter gewys deur druk op die Olifante te plaas. Hy soek nie verskonings vir die nederlaag nie en het bygevoeg: "Ons het geleenthede gehad en dit nie benut nie."
Moolman het gesê die Olifante is 'n kwaliteitspan en het die wind beter tot hul eie voordeel benut.
Die Olifante speel komende Saterdag in Welkom teen die Griffons in die eindronde. Hy glo die Griffons gaan die pyp rook.
SWD-rugby wag nou vir leiding oor wat vir die res van die seisoen moet gebeur. Van die Arende is tot Julie/Augustus gekontrakteer.
Op die oomblik gee die spanbestuur aandag aan beplanning vir die pad vorentoe. Moolman en sy afrigtingspan sal beslis aanstaande seisoen weer betrokke wees.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het Dinsdag gesê gegewe die kort tydperk wat die span saam was, het niemand kon voorsien dat hulle 'n halfeindronde sou haal en mededingend sou wees nie.
"Ek is tevrede met die sukses wat die span in 2022 behaal het. Die fondamente vir volgende seisoen is gelê. Die afrigting/bestuurspan is daar en ons hoop om beter te doen in die 2023-seisoen."
Die Arende het 10 wedstryde in die reeks gespeel. Daarvan het hulle ses gewen en vier verloor. Die Arende het derde in die reeks geëindig.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'