RUGBY NUUS - 'n Rugbydag waarna veral Aberdeen RFC se ondersteuners geweldig uitgesien het, het in 'n kopseer vir die bestuur van díe klub ontaard.
Aberdeen sou Saterdag 17 Augustus op hul tuisdorp teen St Marks PE RFC in 'n OP Rugby-unie Grand Challenge ligawedstryd speel, maar in die loop van Saterdagoggend het hulle verneem dat St Marks nie oppad is nie.
Dit was 'n groot slag, want die spelers en toeskouers was slaggereed vir die dag, des te meer omdat ondersteuners vir die eerste keer hul splinternuwe ondersteunershemde sou dra.
Klubvoorsitter Nico Vywers en bestuurslid Bezil Coetzee sê St Marks het nog op 14 Augustus die kragmeting bevestig en aangedui het dat hulle beslis Saterdag sou reis van Gqeberha.
Na hulle Saterdagoggend die slegte nuus ontvang het, moes Vywers en Coetzee inderhaas almal inlig dat die wedstryd gekanselleer is.
Coetzee sê met beperkte fondse maak die klub staat op hekfooie om wegwedstryde se vervoer te finansier. Vywers sit behoorlik hande in die hare wanneer 'n rugbydag gekanselleer word. "Dit maak ons as klub telkens finansieel baie seer wanneer so iets gebeur, maar nog erger is dat ons ons ondersteuners teleurstel."
Aberdeners is vurige rugbyondersteuners en met tuiswedstryde laat hulle telkens hul ondersteuning dreun oor die vlaktes van die Kamdebo.
Maar met die lewe wat gebeur, het hulle geleer om altyd 'n Plan B in die sak te hê. Bittereinders het hulle nie Saterdag laat afsit nie en oud en jonk het van buite die hekke tot onder die bome en op die pawiljoen 'n heerlike Saterdagmiddagkuier ingepas.
"Dit bly vir ons 'n wen, al was daar nou nie rugby nie en al is die pawiljoen nie vol nie. Ons kuier onsself in 'n wen in, want Saterdag is rugbydag - met of sonder spelers!"
"Dan ondersteun ons maar onsself!" Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’