ABERDEEN NUUS - Lede van die Aberdeen-rugbyklub het verlede Donderdag, 23 Februarie, self die sportterrein by die plaaslike skouterrein skoongemaak. Die rugbyveld se gras is gesny en die omringende terrein is opgeruim en snoeiwerk gedoen. Nico Vywers, voorsitter van die klub, het toegesien dat die lede wys hulle spanwerk strek verder as rugbyspeel op die veld.
Die rugbyklub in sy huidige vorm is in 2003 gestig, maar het geen klubhuis of ander fasiliteite nie.
Verlede jaar het hulle wel aansoek gedoen om die plaaslike skouterrein (wat 'n rugbyveld insluit) van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit te huur.
Die proses is egter nog nie afgehandel nie. Intussen laat die DBNPM goedgunstiglik toe dat die rugbyklub die rugbyveld gebruik.
"Ons is volgende naweek gasheer vir 'n groot wedstryd teen Willowmore. Dit is ons eerste wedstryd vir die jaar en afskoptyd is 14:00 op Saterdag 4 Maart.
Ons moet die plek darem so goed moontlik laat lyk. Intussen moet die manne oefen ook," verduidelik Vywers waarom die klublede self ingespring het.
Hard aan die werk op die rugbyveld.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'