Gallery
ABERDEEN NUUS - In 'n EPRU Grand Challenge Cup-ligawedstryd op Saterdag 29 Junie, met 'n eindtelling van 33 - 27, het Aberdeen A vir Kareedouw Tigers A gewys wie temmer en wie tier is op die rugbyveld in Aberdeen.
Die eerste helfte van die titaniese stryd tussen die twee spanne is geheel en al oorheers deur Aberdeen met 'n rustydtelling van 21 - 0.
Met die sterk wind van agter in die tweede helfte, het die Tigers 'n totale ommeswaai gemaak en 'n paar keer agter die doellyn gaan kuier.
FOTOGALERY: Aberdeen A-Span wys wie is baas
In die eerste helfte het Aberdeen die voordeel van die wind van agter gehad en binne ongeveer 15 minute reeds met twee asemrowende drieë gespog. Ná die eerste drie binne die eerste minute van die wedstryd, het Aberdeen die druk op die Tigers gehou en die grootste deel van die eerste helfte oorheers met veld- en balbesit. Die Tigers was vindingryk in hulle verdediging, siende dat verdedigingskoppe in die sterk wind nie 'n opsie was nie. Balbesit is beslis tussen die voorspelers en beide spanne se voorpakke het deurlopend hard gewerk en goed vertoon. Alhoewel Aberdeen meer hanteerfoute gemaak het as die Tigers, was dit egter Aberdeen wat herhaaldelik daarin kon slaag om met hulle kenmerkende, onoortreflike, hardlooprugby, punte aan te teken.
Die tweede helfte is begin met die Tigers wat die bordjies netjies verhang het en hulle eerste drie binne die eerste vyf minute van die tweede helfte gedruk het.
Veld- en balbesit was aansienlik meer gelyk in die tweede helfte met die Tigers wat ooglopend nuwe moed gekry het ná hulle eerste punte op die bord. Die eindtelling bevestig dat die Tigers die tweede helfte van die wedstryd oorheers het.
Aberdeen se Jean Claude van Wyk het in die eerste helfte 'n enkelbesering opgedoen en moes van die veld gedra word. Genadiglik blyk dit nie 'n blywende besering te wees nie, aldus Marius Frazenburg, bestuurslid van Aberdeen-rugbyklub. Dit was veral Aberdeen se agsteman, Romario Saaiman, wat die hele wedstryd deur 'n absoluut skitterende vertoning gelewer het. Alhoewel daar amptelik geen speler van die wedstryd aangewys is nie, sou Saaiman Saterdag beslis met dié titel van die veld kon draf.
Nie net was sy spoed indrukwekkend en het hy meer as een drie gedruk nie, maar sy verdediging was ook uitsonderlik.
Die Tigers moes van meet af aan verdedig.
Plettervat deur die Tigers.Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’